ToekomsVenster: Simbole wat aan God herinner

(Foto: Jeremy Bishop/Unsplash.)

Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres — so is ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is. – Psalms 123:2

Welkom by ons splinternuwe reeks, Simbole van genade. Ek het met een van die albums wat ek opgeneem het ʼn lied gesing waarvan die woorde lui:

Kyk ʼn bietjie rond en  dan sal jy sien

Al die kleure wat die veld voorsien

Dan sal jy weet God is daar.

Die wêreld rondom ons is ryk aan simbole wat aan God herinner. Dit kan ook nie anders nie omdat die skepping sy handewerk is. Romeine getuig daarvan.

Die ganse werklikheid verkondig dat God bestaan en dat Hy oor alles troon.

Simbole soos gister gesê herinner ʼn mens aan ʼn groter waarheid. Die Bybel is vol van simbole. Dink aan die wyn en brood wat tydens nagmaal uitgedeel word. Dit is nie die brood as sodanig wat betekenis dra nie maar die saak waarna dit verwys. Soos die brood gebreek word, so is die liggaam van ons Here Jesus vir ons gebreek. Die simboliek van die wyn is bekend, so ook die water wat by die doop gebruik word.

Ek wil graag saam met jou kuier rondom die simbole van genade wat rondom ons gesien kan word soos reeds gesê. Gister het ek verwys na die mossies wat so gulsig eet aan die saadjies wat ons soggens vir hulle uitsit. Bykans elke dag is daar ʼn kleintjie wat gevoed moet word.

Ek wonder of jy al opgelet hoe gebeur die affêre. Die klein voëltjie staan en dit lyk of die hele lyfie bewe. Elke vlerkie en veertjie is aan die beweeg en ek vermoed daar is geluidjies wat ook gevorm word.

Die mamma of pappa pik ʼn saadjie op en plaas dit in die oop bekkie van die honger kind. Die outjie word nie deur ʼn enkele saadjie versadig nie en dit is ʼn hele proses om hom of haar versadig te kry. Die bekkie bly oop en die lyfie bewe vir al wat kan.

Dit is kosbaar maar vertel vir my iets van ons absolute afhanklikheid van God. Ons is radikaal afhanklik van sy versorging en staan eintlik met respek gesê oop bekkie nader dat Hy ons kan begenadig met wat vandag nodig is.

Ons is nie selfversorgend nie en alhoewel ons iewers ʼn mate van volwassenheid moet ontwikkel en aan ander sorg en ondersteuning moet gee is ons ten diepste aangewese op sy genade.

Ons kom in daaglikse afhanklikheid, diep bewus van ons gebrek aan eie vermoë en te midde van  ʼn dikwels koue en onseker wêreld na Hom toe.

God versorg, onderneem, versterk, voed en beskerm volledig en omvattend. Elke keer as ek die jongeling bewend by sy ouer staan en wag sê ek: “Hier is ek ook Here, voed my met U Woord, vul met my met U Gees, beskerm my teen gevare, jou my hand en gee insig in die besluite wat ek vandag moet maak’.

Mag jy ook so intens bewus wees van ʼn goeie Vader.

Môre kuier ons verder oor simbole van genade in ons omgewing.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blomme ·

Ek geniet Toekomsvenster elke dag.. Verskriklik insiggewend en verrykend. Absoluut kosbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.