ToekomsVenster: Sit ’n ander bril op

(Foto: Bud Helisson/Unsplash)

Met ontsteltenis ontdek ek vanoggend by die kantoor dat ek my bril by die huis vergeet het. Die van julle wat nie ʼn bril nodig het nie moet julle seëninge tel. Op sy beste is dit ʼn uitdaging om die affêre byderhand te hê vir wanneer jy dit nodig het.

Ek het twee brille, ʼn “ver” een en ʼn “naby” een. Ek bedoel as ek ver wil kyk word die een gebruik. As ek teks moet lees dan gebruik ek my naby-bril.

Waarom dra ek nie ʼn bril wat albei funksies insluit nie? Ek sal jou ʼn antwoord skuldig bly.

My naby-bril lê nou by die huis en ek het noodsaaklike administratiewe werk wat gedoen moet word.

Ek onthou dat in ek in my motor ʼn “oor die toonbank” bril het, nie voorskrif soos die ander twee nie. Dit is ver van die ideaal maar beslis beter as niks.

Die letters swem voor my oë, die wat ek wel op die sleutelbord van my rekenaar raakslaan. Die teruglees gaan met moeite gepaard.

Ek wil tuiskom by die bril as metafoor vir die wyse waarop ons na die wêreld kyk.

Sommige brille is so ontoereikend dat ons letterlik niks kan sien nie. Ander se lense is al in so ʼn mate skeefgetrek dat alles buite verhouding is. Covid-19 maak bril dra ook nie makliker nie omdat dit gedurig, boererate ten spyt, opwasem.

As daar skort met jou bril, skort daar met jou visie. As jy nie mooi sien nie, kan jy nie behoorlike oordele maak nie. As dit wat jy sien skeefgetrek en buite verhouding is, sal jou lewe daarmee in lyn kom want jy moet noodwendig daarby aanpas.

Dit is dalk tyd dat jy by die oogarts uitkom en behoorlike voorskrifbril wat op wetenskaplike feite gegrond is bekom. Die “oor die toonbank” goed werk nie op die lange duur nie.

God open oë van geloof. God gee perspektief en onderskeidingsvermoë. Hy is die lig wat helder skyn. Wie deur sy oë kyk sien en kyk anders.

Jesus het verskeie kere mense met hul sig gehelp. Dalk is dit tyd dat jy by Hom aanmeld.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.