ToekomsVenster: Skepping en herskepping


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Hebreërs 11:3 Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons nie sien nie. Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain.

Vandag wil ons aandag gee aan God se voortdurende betrokkenheid by mense en by Sy skepping. God skep en herskep. Hy is altyd besig om mense te help om te verander of te herskep.

Die herskepping van God is natuurlik ook met die oog op die eindtyd of die eskatologie. In die skepping of herskepping is die vraag ten diepste ook ’n vraag na die rol wat gestuurde mense het aan die eindelike vervulling van die heelal. Ons praat van die “alreeds” en die “nog nie.” Ons is geskep, deel van die herskepping, maar ons is nog nie klaar herskep nie.

Die kerk moet daardie plek wees waar mense hierdie spanning kan aanvoel. Die kerk staan dus nie teenoor die skepping nie, maar die kerk is die plek waar daar tekens moet wees van die herskepping. Ons is nogsteeds vasgevang in die realiteit van ons swaarkry hier op aarde, die gebrokenheid en ons broosheid, maar in die broosheid en gebrokenheid is ook die heling, die gesond word. Die tekens van die herskepping. Die wêreld moet dit kan sien in verhoudings wat herstel word. Hulle moet iets beleef van hoe siek mense gesond word wanneer hulle God in hulle lewens inlaat; die “alreeds” en die “nog nie” van ons bestaan.

Gebed:

Here ons leef nog nie in die hemel nie. Dit is vir ons moeilik, want ons wil so graag iets van die hemel deurgee aan ander. Tog weet ons daar is oomblikke wat dit hemel op aarde is. Help ons om dit raak te sien en te koester. Amen.

Leefwyse:

Dink aan mense wat in jou gemeente is wat aangeraak is deur die evangelie. Hulle was dalk op vernietigende pad en die evangelie het hulle omgedraai.

Iets om vandag oor na te dink:

Koop vir jou klei en bou iets. As jy klaar is, wag so rukkie en breek dit dan en begin dit weer oor bou. Neem jou emosies waar wanneer jy skep en dan herskep.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.