ToekomsVenster: Snelweë

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ʼn bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.” – Psalms 127:2

Suid-Afrika spog darem met ʼn paar snelweë wat ʼn gemaklike en veilige rit verseker. Ek dink aan die N3-deurpad na die see. Ai, hoe verlang ek nou na vakansie.

Toegegee, vir solank as wat ek kan onthou, is die pad digby Pietermaritzburg onder konstruksie. Dit lyk nie of dinge verbeter nie. Om laatmiddag op daardie pad te wees voel kompleet of Ballito nooit gaan aanbreek nie. Paaie het ons gesê, is ʼn metafoor vir en van ons geloofslewe.

Die spoedgrens op hierdie lieflike paaie is bykans deurgaans 120 km per uur, die maksimum wat op Suid-Afrikaanse paaie toegelaat word. Sommige motors het ʼn meganisme wat jou spoed beheer. As jy dit eers vasgestel het, ry die pad alte lekker.

Vandag gesels ons juis oor snelweë.

Jy kies ʼn snelweg omdat jy gou by jou bestemming wil uitkom. Die grootste voordeel in die minste tyd.

Die gevaar is groot dat ons, wat ons geloofslewe betref, ons op “snelweë” bevind. Tyd vir stil word, afdraai, dink en peins is daar nie meer nie. Dit is hoogstens ʼn beloftekaartjie uit die houertjie voor jou bed en ʼn haastige gebed aan die etenstafel voordat jy die dag aandurf.

Behalwe vir ʼn “Here, nou moet u help”, gebeur daar ook nie iets betekenisvol gedurende die dag nie.

Vanaand na die vermoeiende TV-nuus en ʼn sport- of leefstylprogram, roep die bed.

Met ʼn piksoentjie vir jou geliefde en ʼn bedagsame “nag Here” vergeet jy van alles tot môre.

Dan begin die rotteresies weer ʼn keer. Dag in en dag uit.

Toegegee, die lewe is nie maklik nie. Werk is skaars en die lewe is buitengewoon duur. Jy moet jou deel doen as jy hoop om te oorleef.

Tog is daar ʼn wonderlike belofte – trouens talle beloftes – in God se Woord vir mense wat hul prioriteite reg reël.

“Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou.” – Psalms 33:17-18

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.