ToekomsVenster: ‘Só is julle in my hand’

pottebakker_klei_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. – Jeremia 18:6

Legkaarte is miskien aanvanklik uitdagend maar later word dit ʼn  bron van bevrediging. Dit is darem aangenaam om die voltooide stuk op die tafel te sien lê. Jy pak dit nie onmiddellik weg nie, nee, jy los dit daar dat besoekers die nagte se wakkerbly saam met jou kan waardeer.

Daar steek so ʼn stukkie ydelheid in, nie waar nie?

“Wow, het jy dit gebou?”

“Ja, en dit was uitdagend. Is dit nie ʼn  mooie legkaart nie,” word gesê terwyl jy eintlik hoop die persoon sal sê: “sjoe, maar jy is darem oulik”.

Ag nou ja, kom ons gun mekaar die bietjie raaksien, of wat sê ek alles.

Ons gesels oor legkaarte bou en die legkaart van die lewe. Ons het agtergekom dat die legkaart uitdagend en selfs kompleks is en nie sommer oornag aanmekaar gesit word nie, trouens dit is ʼn lewensreis en projek.

Ons het agtergekom dat al die stukkies nie daar is nie en alhoewel ons met verdrag dalk al ʼn prentjie kan begin vorm van hoe die voltooide produk daar mag uitsien, word die stukkies een op ʼn  slag aangegee.

Ons kan die legkaart dus nie voortydig voltooi nie. Om die waarheid te sê, die laaste stuk of stukkies sal eers gegee word wanneer ons die tydelike met die ewige verwissel.

Dalk sal ons die voltooide produk eers in die hiernamaals kan bewonder, nie omdat ons iets spesiaal is nie maar omdat die Pottebakker so uitnemende met die klei gehandel het.

Ek wonder hardop, sal die legkaart ook ons mislukkings akkommodeer?

Enersyds is en word ons geregverdig deur die bloed van die Lam. Ons sonde is betaal en ons word nie daarvoor verwyt of daaraan herinner nie.

Mislukking is dalk nie die regte woord nie. Misluk ʼn kind van God of is dit deel van die oefenskool wat God opstel?

Word ons ergste brouwerk nie ook uiteindelik deel van die groter verhaal nie? Dalk is dit deel van die suksesverhaal van God se ewige en goedbedoelde betrokkenheid by ons lewens.

Die Here is met ons op pad. Die Here weet ook waarheen. Die Woord belowe dat ons uiteindelik so volmaak en volwasse soos Christus sal wees. Ons sal in ʼn oogwink verander word sodat wat nietig is, deel kan hê aan wat ewigdurend is.

Ons het ʼn onverganklike hoop, ʼn verwagting wat nie teleurstel nie.

Ons moet die oë gevestig op Jesus hou, die Begin en die Einde van die geloof, koersvas bly, ook vandag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.