ToekomsVenster: So moet julle bid

gebed-meisie

Foto: Pixabay.com

So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word… – Matteus 6:9

Die fokus in die “Onse Vader”-gebed val onmiddellik op die roeping wat op ons lewens as gelowiges rus. Sommige mense noem dit ons “skeppingsdoel”. Dis in die eerste plek nie om “iets vir God te doen” nie, maar om só te leef dat Sy Naam (wie Hy in wese is)  verheerlik word.

“Verheerlik” beteken dat God die erkenning kry wat Hom toekom.

Geen mens op aarde kan dit  ten volle verwoord nie, maar dit beteken dat ons met ʼn “prys die Here”-ingesteldheid lewe.

As ons eers geleer het om met so ʼn gesindheid te lewe sal ons “twee keer dink” voordat ons iets onsinnig aanvang.

Die vraag is dus nie net wat sou Jesus gedoen het nie (WWJD), maar wat “verheerlik Jesus”, ja, die drie-enige God, die meeste.

Ons is immers skepsels, die werk van sy Hande – asemrowend en merkwaardig gemaak as sy beelddraers en verteenwoordigers. Ons is gedurig besig om deur ons lewe en optrede  na Hom te verwys.

Ons moet die gesindheid van die Heilige Gees ontwikkel. Laasgenoemde wys nooit na Homself nie, maar deurentyd na die Vader en die Seun. Ook ons gebede moet  deur een oorkoepelende motivering gedra word, naamlik dat Ons Vader, mý Vader, deur alles wat ek bid en doen, dink en sê, beplan en uitvoer, geprys moet word.

Daarin groei ons dag na dag.

Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom.” – Openbaring 4:8

  • Onthou die nasionale gebedsinisiatief:

25 Mei (Hemelvaart) en die tien dae van Pinkster (tot 4 Junie)

Bid by jou werk, besigheid, kantoor, klaskamer, lesinglokaal, inkopiesentrum, gimnasium …

Bid alleen en saam met mense … (veral onbekendes)

Bid dat Suid Afrika genees mag word …

www.sapray.co.za of laai die ToekomsVenster-app. af vir meer inligting.

Registreer nou as gebedsvennoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.