ToekomsVenster: Soek hulp en praat daaroor

(Foto: Luis Galvez/Unsplash)

“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” – Psalms 50:15 [AFR83]

Selfdood is ʼn hartseer werklikheid in Suid-Afrika, trouens die hele wêreld. Statistieke skilder ʼn onrusbarende prentjie. Ek haal aan uit ʼn bydra wat die bekende dr. Isak Burger op Facebook geplaas het.

“Alhoewel statistieke oor selfdood nie geredelik bekombaar is nie, blyk dit dat daar jaarliks ongeveer ʼn miljoen selfmoorde ter wêreld is – een elke 40 sekondes. Oor die laaste 50 jaar het selfdood met 60% toegeneem. Wêreldwyd is die selfmoordsyfer 16 per 100 000. In Suid-Afrika is dié syfer 17,2 per 100 000 − 23 gevalle elke dag.

Vir elke selfdood is daar tot 20 pogings tot selfdood. Tot soveel as 50% van mense wat uiteindelik hulle eie lewens neem, het vantevore reeds pogings daartoe aangewend.

Daar is meer vroue wat hulle eie lewens probeer neem as mans, alhoewel meer mans as vroue ‘suksesvol’ is.

“Min mense is nog nie deur selfdood geraak nie. Een persoon se selfdood kan dosyne mense se lewens beïnvloed.”

Ek wonder of daar iemand is wat nie op een of ander wyse met die hartseer van iemand na aan jou, wat selfdood  het, moes hanteer nie. Trouens die wonde lê steeds diep, somtyds vergesel van selfverwyt, skuldgevoelens en persoonlike trauma.

Terwyl die saak van selfdood met groot empatie hanteer moet word, moet ons ook persoonlike verantwoordelikheid neem.

Somtyds is daar geen tekens nie en kom die daad as ʼn ontstellende verrassing.

Ander kere sien ʼn mens die tekens raak, die persoon getuig dat die lewe sin verloor het en dat hy nie meer kans sien om aan te gaan nie.

Sensitiwiteit speel ʼn baie groot rol. Moenie sulke praatjies summier afmaak of ignoreer nie. Doen navraag oor wat ontstel en help die persoon om perspektief te kry. Meermale is die saak wat onoorkomelik skyn te wees, iets wat gemaklik opgelos kan word. Dit mag egter in die lewe van die geaffekteerde die spreekwoordelike laaste strooi wees.

Daar is mense wat met jou geheime vertrou kan word. Mense wat deur die Here geroep en toegerus is. Jy is nie die enigste mens op aarde wat uitdagings in die gesig staar nie.

Daar is ook bitter min dinge waarmee ʼn terapeut, dominee, sielkundige of psigiater nog nie te doen gehad het nie.

Moenie dat trots jou daarvan weerhou om hulp te soek nie.

Kom ons wees daar vir mekaar. Die lewe is ingewikkeld en het baie uitdagings. Ons het almal ʼn skouer nodig om somtyds op te huil.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.