ToekomsVenster: Soek na God se rus


koninkryk-van-God

Argieffoto.

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. – Lees Psalm 37:3

Rustigheid is die een kommoditeit waarna soveel mense smag.  Van besig wees, het ons meer as genoeg.  Veral die stad met sy gedruis en druk maak dat ‘n mens saans uitgeput en oorlaai by die huis kom. Nadat jou energie so getap is, het ‘n mens nie meer lus of die energie vir die ander mooi dinge van die lewe nie.  Uitgeput plons jy jou voor die TV neer en raak dikwels sommer daar aan die slaap.

Dit is noodsaaklik dat ‘n mens tye van rustigheid skeduleer, “eenkant kom” tye.  Dis geleenthede waar liggaam, siel en gees spreekwoordelik net weer met mekaar opvang.  Dis tye van liggaamlike, emosionele en geestelike verkwikking en herstel.  Dis “ek, my” tye.  Jesus het dikwels alleen of met net sy dissipels “eenkant” gekom.

Lukas 9:18

Op ‘n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het Sy dissipels by Hom saamgekom.  Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?”

Dis gepas om ietwat “selfsugtig” te wees in so ‘n tyd, beleefd te vra dat jy ruimte gegun word om tot verhaal te kom. Dit is sterk aan te beveel dat ‘n mens jouself in die natuur afsonder.  Nie met al die weelde waaraan jy gewoond is nie, die eerste tree na die TV om die volgende sport uitsending te volg nie.

Dis stilword en stilwees tye.  Dit neem tyd, dissipline en fokus.

Jou verwagting is van God, jy is op Hom aangewese, jy verlang daarna om sy stem te hoor. (Psalm 42)

Is jy moeg en oorlaai, uitgeput en gestres?

Kom eenkant.  Soek na God se rus.  Beleef die rustigheid van sy teenwoordigheid sodat jy met nuwe energie na jou konteks kan terug gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theo van der Walt ·

Ek hoor onlangs iemand se dat jou oggend stiltetyd is soos die deur van die dag. Gaan deur die regte deur die dag binne dan lyk die hele dag sommer positief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.