ToekomsVenster: Somtyds heeltemal alleen

alleen-eensaam-man

Foto: Noah Silliman/Unsplash.com

“Hy het hulle weer alleen laat bly en ’n derde keer gaan bid…” – Matteus 26:44

Jesus sonder Hom af in die tuin van Getsemane. Hy neem drie van sy dissipels saam om die nag met Hom in gebed deur te bring. Op ’n stadium laat hy hulle agter met die opdrag om te waak en te bid en gaan self verder om alleen met sy Vader te wees. Hierdie eenkant kom, is baie belangrik en noodsaaklik vir die diepste vertwyfeling wat voor die Vader verwoord moet word.

Vriende, kollegas, familie ensovoorts is so ’n belangrike deel van ons verwysingsraamwerk. Dit ten spyt is daar goed wat ’n mens soms net vir God kan sê, erken en bespreek. Die diepste binneste van jou menswees kan jy in die teenwoordigheid van jou Vader ontsluit in die wete dat Hy jou nie sal wegstuur of veroordeel nie. Daardie vrymoedigheid teenoor God moet ’n mens koester en gebruik. By Hom kan jy totaal eerlik wees. Hy sal jou nooit ongemaklik laat voel nie.

Jesus bid en bid weer ’n keer. Hy vind sy dissipels elke keer aan die slaap as Hy na hulle terugkeer. Dit is so dat ’n mens dikwels in jou donkerste nag alleenheid kan beleef. Daar is belangstellendes en simpatiseerders rondom jou, maar jou diepste nood word meermale net deur jou aangevoel, beleef en verwoord. Daar is immers net een jy. Jou omstandighede en die intensheid van jou belewenis is eg persoonlik.

Niemand beleef die lewe op dieselfde manier nie omdat ons individue is, elk met sy eie samestelling, menswees, verwagtinge, teleurstellings, ensovoorts.

Die troos is dat daar ’n adres is waarheen jy kan vlug wanneer daardie alleenheid jou tref.

God wag vir jou. Vertel Hom wat in jou lewe aangaan. Hy verstaan.

Gebed

Vader, daar was al alleentye in my lewe.
Dankie dat U toe ook naby was.
Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.