ToekomsVenster: ‘Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook’

duif-vrede-vredemaker

(Foto: Sunyu/Unsplash)

“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” – Johannes 20:21

Ons het hierdie week gesels oor menseregte. Die term is duidelik in die Bybel verskans. Die skeppingsverhaal is daarvan ʼn voorbeeld.

Duidelike voorskrifte dat ons mekaar moet liefhê is oral in die Bybel te vinde. Aanvanklik het die teks gelui, soos julle self. Dit word later verinnig en verhoog wanneer Jesus sê: “soos Ek julle liefgehad het”.

Daar is geen onduidelikheid oor wat dit mag impliseer nie. Wat Jesus vir ons gedoen het moet ons aan en vir mekaar doen. Ek het julle ʼn voorbeeld gestel, leer Jesus sy dissipels. As Ek wat julle leermeester en Here is dan bereid is om julle so te dien, moet julle  eweneens mekaar dien.

Geleenthede om diensbaar te wees is legio, meer as wat in ʼn leeftyd benut kan word. Ons hoef nie ver te reis om ʼn arbeidsveld te ontdek nie. Dit is rondom ons.

Die staatspresident verwys graag na die sogenaamde “resilience” van Suid-Afrikaners. Ek dink ʼn goeie vertaling is veerkragtigheid. Niks kry ons onder nie.

Die wyse waarop ons sommer vinnig humor in situasies raaksien is ʼn voorbeeld daarvan. Ek glo dat die bedoeling nie is om ander se swaarkry en verleentheid aan die groot klok te hang en bespotlik te maak nie maar ʼn manier waarop die gemeenskaplike pyn beter gemaak word.

Covid-19-pandemie het ook tientalle mooi stories van hoop gehad. Wanneer die nood op sy ergste is maak kleur, stand en posisie nie saak nie.

Dit is wie ons is. Die populêre meestersverhaal wil ons iets anders laat glo. Daar is uiteraard die uitsonderings en hulle maak die meeste geraas, hulle kry ook die meeste blootstelling.

Maar die meeste Suid-Afrikaners het die wil om mekaar te dien.

Suid-Afrika huisves nagenoeg 60 miljoen mense, God se mense, beelddraers, verteenwoordigers, mense wat geroep is om die grootheid van God te verkondig. Voorwaarts Christen stryders.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.