ToekomsVenster: Soos ’n arend

arend_vlieg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. – Jes. 40:31

Min dinge vergelyk met die skoonheid van ʼn arend in vlug. Vlieg kom so natuurlik soos asemhaal vir die besonderse roofvoëls. Die arend sprei sy vlerke en sweef geruisloos en moeiteloos deur die lug vanwaar kennis geneem word van wat hier onder aangaan.

Dit laat my sonder meer aan die bekende lied “Sweef soos ʼn arend” dink. Dit is darem ʼn aangrypende lied en nou weet ek dat die wysie en woorde die hele dag in my gedagtes gaan draai.

 “Sweef soos ‘n arend

Want Sy liefde dra ons so hoog

Hoog bo die son

Sweef soos ‘n arend

So vêr soos die wind waai my lief

In die Here se krag”

Hier digby ons is ʼn botaniese tuin waar arende hulself in die koppe daarbo tuisgemaak het. Die Witkruisarendpaar spog met die eksotiese name Makatsa (Amazing) en Mahlori (Miracle).

In Junie het twee kuikens uitgebroei waarvan net een oorleef het. Op 13 September het  die kleintjie dit uit die nes gewaag het. Sy sal algaande meer en meer vertroud raak met die kuns van vlieg en oorleef en op die ouderdom van drie maande sonder seremonie uit die nes geskop word.

Aan die einde van September sou die jong kuiken se naam aangekondig word, maar ek het dit nog nie raak gelees nie.

Die arend gryp soos reeds gesê die verbeelding aan.

In watter mate is dit waar van kinders van die Here? Is dit waar van jou? Nie om daarmee of daarin te roem nie maar soveel so dat ander mense graag soos jy wil wees.

Toegegee, mense moet soos Jesus wees maar Paulus sê ons moet navolgers van hom wees soos wat hy  ʼn navolger van Christus is. (1 Kor.11:1 ou Vertaling)

Jy is ʼn mentor, voorbeeld, ja, ʼn leier in eie reg. Jy beïnvloed en jou lewe stel ʼn voorbeeld. Mag dit so aangrypend soos die van die arend wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.