ToekomsVenster: Sout en vrede

sout

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word. “Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ʼn mens dit weer sout maak?
“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.” – Markus 9:49-50

Die soutmetafoor is welbekend. Op ander plekke word die lig ook betrek. Dit gaan oor ons getuienis in hierdie wêreld. Verderfwerend, duisternisverdrywend, gereed om aan sy missie en mandaat uitvoering te gee.

Dis so belangrik om kennis te neem van ons opdrag as kinders van die Here. Mens kan inderdaad vra hoe dit met die kerk gaan en die toestand in die wêreld as barometer gebruik. Ek besef dat dit nie in alle opsigte van toepassing is nie, maar iets daarvan is waar. Ek herinner my aan die bekende teks in 2 Kronieke 7 waar God die afwesigheid van sy seën en die aanwesigheid van die kwaad in die wêreld in verband bring met die toestand van die kerk.

Ons ken die sg. “state of the Nation”- of “state of the City”-verslae wat deur belangrike persone gelewer word. Die gedagte aan ʼn “state of the Church”-verslag is ontnugterend veral in die lig van die Skrifgedeelte in 2 Kronieke.

Daar is ʼn tersaaklike verband tussen die voortsnellende verval in die samelewing en die onvermoë van die kerk om die karakter van Jesus in hierdie wêreld te vertoon.

Ons word soms vertel van ʼn evangelie van voorspoed en guns in alle opsigte. Ek twyfel vir geen oomblik daaraan dat ons God se gunsgenote is en dat in die woorde van Psalm 23 as een voorbeeld ons by sy tafel kan aansit en die oorvloed van sy genade en guns kan geniet nie. Die dwang dat God se voorspoed in materiële terme gemeet moet word, is egter verdag.

Dit word dikwels in die mantel van geldgierigheid toegedraai en aan mense aangebied. Veral offergawes vir God se werk kan so uit goedgelowige mense gemergel word.

Die Bybel het ʼn ander perspektief. Dis die noodsaak van dissipelskap, van prysgawe, van ontbering, van selfs lyding wat verkondig word.

Wie vir so ʼn lewe kies, willens en wetens, moes ʼn openbaring gehad het van ʼn groter realiteit, die realiteit van die inwonende Christus, sy vrede, liefde, gemeenskap met Hom, die ware rykdom.

Koop sonder geld, wyn en melk, sê die skrywer van Jesaja.

Swaarkry is gering en gaan verby, maar is niks minder reëel as wat dit in Jesus se dag was nie. In ons dag is daar baie mense wat selfs met hul lewe betaal vir die oortuiging dat Jesus die Here is.

Hoe plaas hierdie gedeelte jou begrip van ʼn lewe saam met Jesus in perspektief?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.