ToekomsVenster: Span jou seile

seilboot

Foto: Argief.

“En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” – Romeine 12:1

God wil jou iewers heen neem waar jy nog nooit was nie om dinge saam met Hom te doen wat jy nog nooit gedoen het nie. Ons moet egter die verskil tussen stilte en stagnasie kan onderskei. Dalk beleef jy stilte met betrekking tot die werking van God se Gees in jou lewe. Vra jouself of die stilte as gevolg van die wind is, of omdat jy jou seile verwaarloos?

Dink hieraan

Daar is verskeie beelde wat vir die Heilige Gees gebruik word. Een daarvan is wind. Jesus sê jy hoor Sy geluid, maar jy weet nie waar Hy vandaan kom nie.

“Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” – Johannes 3:8

God se wind waai kragtens die Pinkstergebeure oor en deur gelowiges se lewens. Dis erg as die wind waai, maar ons bly onbeweeglik en geanker waar ons vasgemeer het. Dis tyd om die anker op te trek. Dis tyd om die diep waters saam met God aan te durf. Daar wag ʼn heerlike verrassing op jou as jy bereid sal wees om op die Here te vertrou.

Doen dit vandag nog.

Gebed

Here, ek vang myself dikwels ongeduldig waar ek versoek word om my seilboot te vervang met ’n roeiboot of motorboot; waar ek ten volle in beheer kan wees. Ek wil nie wegroei van my roeping af nie. Ek kies om myself elke dag aktief vir U te gee, sodat U my kan stuur in die rigting waarin U wil. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.