ToekomsVenster: Speel in harmonie

Foto: Jordan Mixson/Unsplash

Ek hoor ʼn interessante storie in die week. Twee groepe musikante oefen in twee verskillende lokale aan dieselfde musiekstuk. Dis dieselfde instrumentasie en verwerking met alles wat nodig is. Hulle speel dieselfde ritme en tempo sodat vir alle praktiese doeleindes die twee uitvoerings volledig op mekaar kan “pas”. Die ingeoefende musiek word in beide lokale opgeneem maar die musiek is uit ritme en pas met mekaar.

Dan word die, tot nog toe vir mekaar onbekende musikante, in een lokaal bymekaar gebring waar hulle sosialiseer en mekaar beter leer ken. Mense wat dieselfde instrumente bespeel ruil gedagtes uit. Daar heers ʼn hartlikheid en samehorigheid onder al dié bekwame mense. Die oefening word dan herhaal. Die resultaat is verrassend. Die musiek (opgeneem) pas 100% oor mekaar so asof die musikante in een lokaal was en onder leiding van een dirigent gespeel het.

Dit laat my dink aan menswees en die hoë mate van vervreemding wat in die Suid-Afrikaanse konteks leef. Ons ken mekaar nie, dit geld waarskynlik selfs vir die mense wat rondom jou woon. Mede gelowiges in die erediens bly onbekend want ons is te haastig om by die volgende afspraak te kom, daarom kan ons nie bly vir koffie drink na die tyd nie. Daar is doodgewoon net nie meer tyd (ek sê dit nie veroordelend nie, ons het almal aan hierdie rotte-resies gewoond geraak) om in kleingroep bymekaar te kom gedurende die week nie. Ook by die werk beweeg ons in sirkels. Die mense op die volgende vloer is onbekend.

Om nie eers te praat van Suid-Afrikaners wat dieselfde spasie met ons en ons met hulle deel nie. Ons streef vrede na maar doen min moeite om mekaar te verstaan. Dis is ʼn uitnemende teelaarde vir vooroordeel en vrees. Onbekend maak onbemind. Dit bly waar.

Ons begeer dieselfde dinge vir ons land, ons kinders en komende geslagte. Ons gaan dit nie in ons kompartemente bereik nie. Ons moet mekaar iewers ontmoet. Ons moet vra wat maak die ander bly en hartseer. Ons moet vra na mekaar se verstaan van ons wêreld en hoe vorentoe. Daar is geen substituut vir gesprek nie en die alternatief is vreesaanjaend.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.