ToekomsVenster: Spore in die sand

(Foto: Jannie Pelser)

Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” – Romeine 10:15b

Ek wonder wie se spore lê daar in die sand en wat gebeur in hul lewens?

Covid-19 het ons vir ʼn lang tyd opgesluit en toegesluit gehou. Omdat ek en my ander helfte albei ietwat ouer is, is ons buitengewoon gehoorsaam aan die protokol wat voorgeskryf word wat ook beteken dat ons net die noodsaaklike reise onderneem het tot nou toe. Met twee Pfizer-inentings agter die rug het ons besluit om Natal se sonskyn op te soek.

My roetine is voorspelbaar; vakansies gaan stap ek ver en alleen. Somtyds dink ek, bid ek, praat ek met die Here. Ander kere gebeur daar nie veel in my gedagtes nie. Tog voel ʼn mens hoe jy van dag tot dag innerlik versterk word en gaandeweg weer gereed kom vir elke dag se uitdagings.

So in die stap vanoggend sien ek die baie spore in die sand en wonder ek oor die lewe en die roeping wat op elke mens se lewe rus. Die vraag, “waar lê my spore” kom by my op. Met die lewe wat uiters kortstondig geword het, ek verwys uiteraard na Covid-19 en die groot getalle mense wat die lewe laat, dink ʼn mens na oor hierdie goed.

Was en is my lewe sinvol?

Beantwoord ek aan God se taakbeskrywing vir my?

Bly daar iets betekenisvol agter as ek die dag van hier af vertrek?

Sal ek hoor, mooi so goeie en getroue dienskneg?

Sal die gehalte van my dienswerk die vuurtoets kan deurstaan?

Genadiglik het ek en jy nog die geleentheid om iets betekenisvol te doen in die Koninkryk. Dit mag wees dat jy moet nadink oor wat God se bedoeling met jou is. Dit is belangrike vrae wat ʼn eerlike antwoord verdien.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.