ToekomsVenster: Spreek die waarheid onverskrokke

(Foto: Priscilla Du Preez/Unsplash.)

Mark 6:17-29 – Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.” Herodias het daarna ‘n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ‘n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ‘n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister. Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ‘n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, sy kop in ‘n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Hierdie teksgedeelte ontstel vir meer as een rede. Die wreedheid van die gebeure is onverdedigbaar. Dit val my op dat sedert die dae dat Kain vir Abel doodgeslaan het wreedheid nog altyd deel van hierdie wêreld was.

Die allerverskriklikste dinge wat mense mekaar aandoen is onverstaanbaar. Sommige wreedhede is eksplisiet en grafies, ander is genuanseerd en agter verskonings van allerlei aard verpak, maar dit bly wreedheid.

Subtiel en onsigbaar of duidelik en in die ope bly wreedheid ver van God se bedoeling vir en  met ons.

Die grootste wreedheid is aan Golgota`s heuwel voltrek waar die Seun van die mens met sy lewe betaal het vir die sonde van hierdie wêreld. Die onskuldige vir skuldiges, sonder dat hulle enige iets daarvan verdien.

Die trauma wat die gebeure onderlê word nie in die teks na vore gebring nie maar dit is duidelik onderliggend. Plotseling word Johannes die Doper in die tronk waar hy onregmatig aangehou word summier onthoof. Wat sou in die harte van die soldate omgegaan het wat nie anders kon as om hierdie opdrag uit te voer nie? Sou hulle ewe wreed wees of sou hulle harte in hulle gekrimp het toe hulle ʼn onskuldige man om die lewe moes bring.

Aan die anderkant die venyn in die hart van Herodias, die vrou van Filippus wat in ʼn buite egtelike verhouding met Herodes lewe en die soeklig van God se opsoekende genade nie kon verduur nie maar alles in haar vermoë doen om dit uit te doof.

Herodes se worsteling enersyds maar ook sy bejammerenswaardige gebrek aan integriteit en leierskap val op. Die goedkeuring van sy gaste en vrou is veel belangriker as dat hy ʼn standpunt in neem, wetende dat Johannes die Doper nie alleen onskuldig is nie maar duidelik ʼn man van karakter was.

Die dogter van Herodias is eweneens onder invloed van haar ma want ook by haar is daar geen aarseling as dit kom by hierdie ongewone versoek nie.

In oordragtelike sin het die wêreld steeds nie verander nie. Skuldige mense hou nie van die waarheid nie. In stede daarvan dat die waarheid hulle vry maak soos wat Jesus se bedoeling was bly hulle vasgevang in sonde en duisternis. Hulle doen alles binne hulle vermoë om die boodskapper ongeloofwaardig te maak en sy stem uit te doof. Dit is waar van die kerk asook elke gelowige waar hulle poog om ʼn mondstuk vir God en sy geregtigheid te wees.

Dit egter mag ons nie stilmaak nie. Swaarkry, diskriminasie en selfs lewensverlies kan ons profetiese verantwoordelikheid nie uitdoof nie. Dit beteken nie dat ons nie stylvol met die waarheid omgaan nie. Arrogansie en aanstellerigheid hoort nie by die kinders Van God nie.

Die waarheid mag en kan nie gemuilband word nie. Mag ons getrou wees aan ons roeping.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.