ToekomsVenster: Staan op, Hy roep jou

gebed-hand-arm-vingers

Foto: Dev/Unsplash.com

Mark 10:49-51 – Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

Die desperate soeke van die blinde man val op. As Jesus hom nader roep spring hy op en laat sy bokleed net daar. Daar is nie tyd nie en wat nie belangrik is nie kan maar agterweë bly. Die hoofsaak is dat hy vandag by Jesus aankom.

Jesus is in elk geval nie geïnteresseerd in die verpakking nie. Die naakte, opregte, soekende en desperate hart alleen beïndruk Hom.

Interessant dat Jesus vir hom vra wat hy van Jesus verlang. Dit is tog ooglopend, die man is blind. In sy voorkennis weet Jesus tog alles. Die lewe lê soos ʼn geopende boek voor Hom. Daar is nog nie eers ʼn woord op ons lippe nie of Hy weet wat dit gaan wees. Desnieteenstaande vra Jesus vir Hom wat hy van Hom wil hê.

Die Here wil hê dat ons spesifiek sal wees in ons gebede en soeke. Dit beteken nie dat dit nie belangrik is nie maar om jou eie nood te verwoord, is die begin van die wonderwerk. Dit is asof jy jou vinger op die seerplek plaas en eg kinderlik wys waar dit pyn. Ek geniet dit terdeë as my kleinkind vir my wys waar die “eina” is. As oupa eers ʼn soentjie gegee het is alles beter, sommer baie beter.

Gebed is nie ʼn versameling van algemene opmerkings wat onder enige omstandigheid steeds geld nie. Gee ons vandag ons daaglikse brood is uiteraard legitiem maar wat is dit spesifiek wat gevra word?

Is dit finansiële uitdagings, is dit siekte wat jou vermoë om ʼn inkomste te verdien in die wiele ry? Is dit die ekonomie wat onseker en uitdagend is? Is die nood groter as wat jy kan verdien? Sê dit netso, presies, sonder omhaal van woorde, vir die Een wat alles weet. Hy wil dit van jou hê.

Jesus staan gereed om jou in jou nood te ontmoet. Hou moed! Staan op! Hy roep jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria M S ·

Baie dankie Liewe Here en Meester vir die verhoor van ons gebede, hoe krom en skeet ookal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.