ToekomsVenster: Sterk in jou geloof

(Foto: Elizabeth Tsung/Unsplash)

Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van die wat nie sterk is nie. – Romeine 15:1

Paulus het dit hier veral met mense wat nie die vrymoedigheid het om sekere soort voedsel, veral vleis, wat aan afgode geoffer is te eet nie. Sommige in die gemeente van Rome het daarmee geen probleem gehad nie, maar dit het ander gelowiges dwars in die krop gesteek.

Paulus vra Christene beleefd om nie vir mense wat (nog nie) die vrymoedigheid het om sulke vleis te eet nie, te verdra en nie vir hulle ʼn struikelblok te wees nie.

Dit is nogal uitdagend om hierdie teks na behore te kontekstualiseer.

Daar is sommige gelowiges vir wie bykans alles ʼn probleem is. Waarvan Jesus hulle vrygemaak het, is ʼn ope vraag want hulle lewe eintlik nog steeds onder die wet.

Van die lewe en oorvloed waarvan die Bybel praat, is daar nie veel sprake nie. Hulle is ook baie bewus van die offer wat hulle, wat hulle betref, in belang van die Evangelie bring.

Dis ietwat jammer, want soveel van die mooi wat God in sy liefde vir ons voorberei het gaan in die proses heeltemal verlore.

Dit tref my ook altyd dat daar mense is wie hul geroepe voel om met elke nuwe inisiatief fout te vind. Die mooi weergawes byvoorbeeld van Jesus of ander Bybel karakters se lewens word treffend in sommige rolprente vertoon. Dit is egter nie lank nie of ʼn hele reeks waarskuwings en voorbehoude sien die lig.

Dit maak ʼn mens sommer moedeloos.

Dit beteken hoegenaamd nie dat alles onder die son geregverdig is nie. Trouens, Paulus stel dit duidelik, “moet net nie julle vryheid gebruik as ʼn verskoning om sonde te doen nie”. (1 Kor.6:12-20)

Dit is dus waar dat daar gelowiges aan die anderkant van die spektrum is wat hulself onder die vaandel van Christelike vryheid, alles toelaat. Daar is bitter min grense in hul lewens en hul kies om die vryheid waarmee Jesus ons vrygemaak het en waartoe Hy ons uitnooi, tot die uiterste te beproef.

Iewers is daar ʼn gesonde, geseënde en verantwoordbare middelgrond. Immers, gelowiges het mos die Gees van Christus en die Woord van God as rigsnoer vir hul lewens.

Wat vir een persoon ʼn probleem mag wees mag binne ʼn ander se verstaan heeltemal toelaatbaar wees.

Paulus sê elkeen moet in sy eie gemoed oortuig wees. (Rom.14:5)

Uiteindelik help Paulus ons as hy vra dat ons nie willens en wetens vir ander spanning sal veroorsaak omdat hulle nie noodwendig dieselfde voel en glo as ons nie.

Dit help nie om mekaar name te noem en te verkleineer nie. Trouens, dit pas hoegenaamd nie by kinders van die Here nie.

Die liefde moet die deurslag gee maar, kan ek maar sê, moenie weer ʼn slaaf van allerlei mensgemaakte reëls en regulasies word nie. (Gal.5:13)

Dis hartseer en onnodig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.