ToekomsVenster: Stilte in afsondering

(Foto: Pascal Debrunner/Unsplash.)

Daar word baie gemaak van die gawe van stilte veral in hierdie tyd van algehele afsondering. Daar is mense vir wie stilte natuurlik kom. Dan is daar mense soos ek wat aktivisties georiënteerd is. Ek is so aanmekaar gesit. Soos ʼn besige by besig om aan die volgende saak aandag te gee. Dit hou uiteraard verband met die wyse waarop ons aanmekaar gesit is. Ons verskil wesenlik van mekaar en ons uniekhede is kosbaar en nie opsigself verkeerd nie.

Stilte is daar ter wille van ons en nie andersom nie. Dit is wanneer stilte ʼn prestasie word, ons daaraan gemeet word en ons selfbeeld in die stof sleep omdat ons nie soos ander mense kan stil word nie dat dit eerder ʼn albatros as enige iets anders is. Stilte is ʼn gawe, terapeuties en word ingeoefen.

Jy begin met enkel minute. Jy probeer tot bedaring kom, let op jou asemhaling en plaas jou voete op die grond, reg langs mekaar. Jy word bewus van wat in jou lyf aan die gang is. Let op plekke van ongemak en probeer ontspan. Let weereens op jou asemhaling. Word bewus van geluide, ver en naby. Voertuie in die agtergrond tot by die mossies digby in die bome. Die wind se geritsel deur die blare en die kinders wat heerlike veraf in die straat speel.

Tyd vir stilte kies jy wanneer daar redelike rustigheid is om jou. Jy vind ʼn plekkie waar jy alleen kan wees. Jy sit gemaklik en dink aan so min as moontlik. As gedagtes by jou tuiskom neem jy vriendelik afskeid daarvan, laat dit net verbygaan, soos blaartjies wat aangewaai word. Kies vir jou ʼn kort sinsnede wat jy oor en oor kan sê, rustig, genuanseerd, met bedoeling. “Jesus is die Here” kan werk of “wees stil en weet Ek is die Heer”. Dan breek jy dit in stukkies totdat net die stil wees oorbly.

Gaandeweg raak dit stil in jou gemoed. Jy sien daarna uit en verwonder jou aan Sy nabyheid.

Die lied sê:

Wees stil en weet Ek is die Heer

Laat rus by my jou kommer en vrees

Ek sal vir jou ʼn toevlug wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.