ToekomsVenster: Streef na geestelike volwassenheid

(Foto: Mike Marrah/Unsplash)

Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees! – 2 Kor. 13:11

Geestelike volwassenheid moet die stewe van elke gelowige wees. Om naïef, beïnvloedbaar en selfs manipuleerbaar deur die lewe te gaan, is ongesond en nie aan te beveel nie.

Paulus skryf in Efesiërs eweneens oor geestelike volwassenheid, in staat om te onderskei waarop dit aankom.

So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. – Efes. 4:13

As jou geestelike verwysingsraamwerk gebrekkig is en jy nie doelgerig werk daaraan om jou kennis oor God en sy Woord te verryk nie, stel jy jouself bloot. Tensy die Woord lewend is en jy darem weet hoe om belangrike kwessies met betrekking tot die geloofslewe in die Woord na te gaan en te toets, sal jy enige iets glo wat mense jou voorhou.

Die verskil tussen die waarheid en die leuen is somtyds papierdun. Die argumente is so oortuigend en die sogenaamde bewyse so oorredend dat jy halsoorkop betrokke raak by dinge wat nie die toets van die tyd gaan deurstaan nie.

Soek jou heil by erkende bedienings. Groot geboue en welsprekende predikers is nie noodwendig ’n bewys dat die Gees daar werk nie. Die slegte dinge wat gedurende die afgelope jare in die sogenaamde kerklike kringe afspeel deur selfaangestelde profete en apostels, noop ’n mens om baie versigtig te wees.

Nie elkeen wat sê Here, Here sal gered word nie sê die Bybel, maar hy wat die wil van my Vader doen wat in die hemel is. (Matt. 7:21)

Ander sal sê en aanspraak daarop dat hulle bose geeste in die naam van die Here uitgedryf het waarop Jesus sal antwoord – Ek het julle nooit geken nie. (Matt. 7:22)

Toets wat mense sê aan die Bybel, toets dit aan die belydenisskrifte van erkende kerke deur die eeue. Leer die Apostoliese Geloofsbelydenis en toets aansprake wat mense maak aan die inhoud.

Wees bedag op fyn nuanseringe wat nie onmiddellik die gevaarligte laat aangaan nie. Nie alles wat blink is goud nie. (1 Kor. 10:23)

Nie alles wat verkondig word kom van God af nie. Laat die Gees jou lei en groei bewustelik en doelgerig in geestelike volwassenheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U die Heilige Gees gestuur het om by ons te wees…..te leer en te lei

Frank ·

Jy’s reg Yvonne, maar ek is ook nie seker of jy dalk iets anders impliseer nie??? Onthou net dat die Here nie wil hê ons moet kerk-los raak nie. Dis ons elkeen se plig om na ‘n gemeente te SOEK wat werklik kerk is (Nederlandse Geloofs Belydenis art 29) en waar Sy Woord behoudend verkondig word en Sy sakremente gebruik word soos wat Jesus dit ingestel het.

Frank ·

Jy’s 100% reg, Jannie. Die leuen en die waarheid is deesdae SO naby aan mekaar. Eintlik was dit nog maar altyd so, bv dit het gelei tot die Reformasie 400jr gelede. Die Apostoliese, Nicea en Athanasius se Belydenisse het ook hulle oorsprong in sulke tye gehad so 200 tot 400 nC. Dis tog SO jammer dat hordes gemeentes nie meer erns maak met die belydenisskrifte nie. Naas die Bybel is hulle SO kosbaar.
Die leuen is soos twee persone wat van ‘n gemeenskaplike punt af vertrek, met hulle koers slegs 1 grade uitmekaar uit. ‘n Paar kilometer aan en hulle kan mekaar nie meer sien nie.
En ja, dis ook hoekom God so ‘n groot saak maak van dwaalleer in Sy kerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.