ToekomsVenster: Strome lewende water

(Foto: Pure julia/Unsplash)

Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. – Joh. 7:37-39

Die huttefees was ʼn weeklange fees waartydens onder andere die sorg van die Here gedurende Israel se woestyn omswerwinge gedenk is. Dit was ook ʼn oesfees waarin dank aan die Here gebring is vir sy voorsiening.

Op die laaste dag is water teen die altaar uitgegiet as teken van dankbaarheid maar ook ʼn gebed om ʼn goeie jaar wat voorlê.

Jesus sluit by die gebruik aan wanneer hy water as metafoor vir die Gees se werking in die lewe van ʼn  gelowige aanbied. Die Gees se werk in die lewe van ʼn  gelowige is sigbaar oorvloedig. Strome lewende water wat die omgewing, konteks en gemeenskap waarvan die gelowige deel vorm, positief, opbouend beïnvloed is die gevolg van die inwonende Gees.

Jesus se versoeningswerk is op hierdie stadium nog nie afgesluit nie. Die kruis, die lydensweg van Jesus lê nog voor. Die Heilige Gees is eers na die opstanding en Hemelvaart as vervulde belofte aan die geloofsgemeenskap maar ook aan elke individuele gelowige gegee.

Ou Testamentiese het die Gees net op sekere persone en met die oog op ʼn spesifieke taak gekom. Joël onder ander verwys na die oorvloedige werk wat die Gees in die lewe van kinders van die Here gaan doen. Jesus voor sy Hemelvaart berei sy dissipels voor op die koms van die Heilige Gees.

Hy verduidelik aan ʼn duidelik ontstelde dissipelkring dat sy Hemelvaart voordelig is daarin dat die Gees as Trooster, Voorspraak en Leermeester sou kom.

Die Gees werk in en deur elkeen wat ʼn belydenis het dat Jesus die Here is.

Stel jouself oop en beskikbaar vir die lewende stroom water wat die wêreld wil verander.

God doen dit deur sy Gees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.