ToekomsVenster: Struikel boontoe

(Foto: Jay Ee/Unsplash)

Val, struikel en misluk is nie lekker nie. Ons ken almal daardie gevoel van teleurstelling en van mismoedigheid as ons na herhaalde pogings steeds sukkel om iets reg te kry.

Uiteraard is daar belangrike vrae waarmee ʼn mens besig moet bly:

  • Waarom doen ek wat ek doen, is dit deel van God se plan vir my lewe en is ek van harte daarvan oortuig?
  • Baie prakties gestel, het ek die kombinasie van gawes van die Gees ontvang om hiermee besig te wees?

Tog kan ‘n mens soms nie help om te vra waarom jy bly faal nie. Skort daar met my strategie?

Onthou net dieselfde manier van doen gaan tog dieselfde resultate oplewer. Dalk moet jy ‘n ander benadering volg. Oorweeg dit om verdere opleiding te ontvang of ander toerusting kry, of nog ʼn bietjie oplees en navorsing doen. Dalk kan jy by iemand gaan sit wat weet hoe, en by hom of haar gaan leer.

Dit is egter nie net die sukkel wat uitdagend is nie, dit is die gevoelens van mislukking, minderwaardigheid en ontoereikendheid wat aan jou kleef. Elke keer wat jy weer misluk word die meesterverhaal weer en weer bevestig, “mislukking, mislukking, mislukking”.

O, die leuens wat die bose ons vertel.

Wat daarvan om elke probeerslag as ʼn stuk ervaring, noodsaaklike ervaring daarby, te beskou.

In die sielkundige kringe word van steierwerk gepraat. Dit is laag op laag op laag totdat jy soos die lokomotief teen die opdraande uit uiteindelik opgewonde fluit, “ek het geweet ek kan”.

Met God kan alles. Jy is nie minderwaardig nie. Hardkoppig dalk, oningelig, nog nie genoegsaam toegerus nie maar minderwaardig, nooit ooit nie. Struikel gerus voort, maar altyd boontoe!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.