ToekomsVenster: Stukkende gesinne

egskeiding-SA-huweliksweek

Argieffoto.

Lees: Efesiërs 5:21-22 & 25:

“21 Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. 22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.”
“25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.”

As die mense in ons land maar net na Paulus wou luister! Van die eerste bladsy van die Bybel af, waar die Here Adam en Eva na mekaar gelei het, is die huwelik veronderstel om die hegte fondament van die samelewing te wees, die gesin die veilige tent waarin mans en vroue en kinders in liefde en respek aan mekaar verbind is, waar die lewe op sy heel mooiste na vore kom. Helaas is dit dikwels die teenoorgestelde. Ons leef in ʼn land vol stukkende gesinne. En dit geld nie net van mense buite die kerk nie, maar van honderde duisende gesinne binne die kerk. Talle redes word hiervoor aangegee: ʼn outydse patriargale gesinsbeskouing, besige lewens, swak menseverhoudings, die eise van die samelewing, ekonomiese probleme, seksuele probleme, ensovoorts, ensovoorts.

Daar is min van ons wat nie êrens langs die pad hiermee te make gekry het nie: die pyn en die ontwrigting van ʼn egskeiding, die spanning tussen mans en vroue, ouers en kinders, pynlike vetes in die familiekring. Die ergste van alles is die ontstellende voorkoms van gesinsgeweld in ons land – van die hoogste ter wêreld: ongeveer 60,000 gevalle van geweld teenoor vroue en kinders word die afgelope tyd, jaarliks, aangemeld. En, sê die statistieke, net ʼn fraksie van gevalle word aangemeld. Ten spyte daarvan dat ons parlement in 1998 reeds streng wetgewing om gesinsgeweld hok te slaan aanvaar het, woord berig dat 59 % van alle vroue in ons land nog altyd gesinsgeweld ervaar.

Gebed:

O Here, ons bid vir die huisgesinne in ons land, vir die pa’s en die ma’s, die oupas en die oumas, al die kinders. Ons bid veral vir dié wat baie swaarkry, vir die duisende grootmense en kinders wat aan geweld blootgestel word. Maak ons stukkende gesinne weer heel!

Leefwyse:

Om Paulus se riglyne vir mans en vroue na te kom, vra baie – maar dis die enigste pad. Om te dink dat my verhouding met my man / vrou ʼn weerspieëling van ons verhouding met Jesus is!

Om oor na te dink:

Vandag is die tyd om baie eerlik na jouself te kyk. Hoe gaan dit in jou huis? Hoe is jou verhouding met die wat die heel naaste aan jou is? Wat kan ek in my eie kring – en ons as gemeente – doen om stukkende huwelike te help heelmaak? Of om dié wat seerkry, by te staan?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

2+2 = 5 ·

Ons het “Stemme roepende in die woestyn” geword. God se raadsplan is vir ons verborge en dit sal so bly totdat Hy besluit om dit aan ons te openbaar. Dat daar ‘n volmaakte plan is, met alles wat in ons land verkeerdloop is waar en seker. Laat ons nie oor die droewighede bespiegel nie. Sy belofte staan vas “die dae sal verkort word juis terwille van die uitverkore kinders van God, want as dit nie so was nie sou niemand gered word nie., nie eers die wat Hy gekies het nie”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.