ToekomsVenster: Stukkende kerke

kersliggies-teeliggies

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

Lees: Johannes 17:20-23:

“20 Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22 Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.”

Die NG Kerk, die Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerk, die APK en die AGS, die charismatiese Kerke, die Metodiste, die Presbiteriane, die Anglikane, die Baptiste, die Lutherse Kerke die Rooms-Katolieke, die Ortodokse Kerk, die Zion Christian Church (ZCC), die honderde en honderde swart onafhanklike kerke – groot en klein. Suid-Afrikaners maak graag daarop aanspraak dat ons in een van die mees Christelike lande op aarde leef. Maar, moet ons bysê, ons leef ook in een van die mees verdeelde Christelike lande op aarde – met die groot getal denominasies wat in ons land aangetref word. Ons vier vanjaar die vyfhonderdste verjaardag van kerkhervorming. En het baie om voor dankbaar te wees. Maar die duur prys wat die kerk van die hervorming betaal het, is dat, toe die kerk eers een keer geskeur het, dit bly skeur en skeur het. Mense wat van buite af na die baie kerke kyk, skud dikwels hulle koppe. Soveel groepe, soveel karikature, soveel misverstande, soveel wantroue. Wie is reg? Waar moet ʼn mens aansluit? Waar is die liefde?

En dit terwyl ons almal Sondae bely dat ons aan die een kerk van Christus behoort, dat ons aan die “gemeenskap van die heiliges” glo. Jesus wou dit anders gehad het. Hy het vir sy volgelinge die opdrag gegee om mekaar lief te hê, soos Hy ons liefhet – dat ons aan ons liefde vir mekaar uitgeken sal word as Sy volgelinge (Joh. 13:34-35). Die aand voor sy dood het Hy ernstig vir die kerk gebid; dat die kerk een sal wees, soos Jesus en die Vader een is. Hy het ook gebid dat die kerk een sal wees sodat die wêreld sal glo dat God Hom gestuur het. Ons het goeie argumente waarom daar soveel verskillende e-kerke bestaan. Dit pla ons nie so baie dat Christene in verskillende hokkies byeenkom, of dat ons dikwels kompeteer en mekaar se werk van tyd tot tyd dwarsboom nie. Maar dis nie wat God bedoel het nie. Dit help ons nie in ons roeping nie: stukkende kerke het min vir ʼn stukkende wêreld te sê.

Gebed:

O Here, vergewe ons ons verdeeldheid, dat ons U liggaam op aarde in stukke gesny het. Vergeef ons ons sonde van verdeelheid. Genees U kerk; maak ons weer heel! Help ons om ons liefdeloosheid en vooroordele eenkant toe te skuif; om mekaar in liefde te omhels.

Leefwyse:

Die gemeenskap van die heiliges word veral plaaslik, in die gewone alledaagse lewe, beoefen. Die gewilligheid wat ons het om na mekaar uit te reik, om allerhande klowe wat tussen gelowiges bestaan in die Naam van die Heer te oorbrug, bepaal of ons ʼn boodskap vir ʼn stukkende samelewing het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.