ToekomsVenster: Stukkie vir stukkie

bergklim-bergklimmer

Foto: Jef Willemyns/Unsplash.com

Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom. Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. – Josua 1:3 (Ou vertaling)

Die lewe het duur geword en baie wonder hoe hulle kop bo water gaan hou. Dit het my opgeval dat supermarkte ’n baie slim plan bedink het om mense te oortuig dat hulle veral vleis nog kan bekostig. Dit word nou per 100 gram adverteer. So sien ek vanoggend dat boerewors by ’n bekende supermark teen R7,99 per 100 gram aangebied word. Dit klink baie beter as nagenoeg R80 per kilogram, nie waar nie?

Die lewe en sy uitdagings kom somtyds oorweldigend en onbereikbaar voor. Dit voel heeltemal buite ’n mens se bereik en jy is gereed om handdoek in te gooi nog voordat jy begin het. Ek dink supermarkte se advertensies kan ons help in die verband.

Breek wat van jou gevra word in veel kleiner en bereikbare eenhede. Dis een tree op ’n slag.

Dalk daarom dat die Here vir Josua sê, elke tree wat jy gee, gee ek aan jou. “Josua, moenie oorhaastig wees en halfpad uitsak nie. Moenie so in die toekoms leef dat jy van geen nut is vandag nie. Moenie jou oor môre bekommer as jy net vandag het om mee te werk nie.”

Terugskouend moet ’n mens erken dat daar baie dinge is wat jy gedink het buite jou bereik is, wat toe wel verwerklik is. As jy goed daaroor nadink mag jy vind dat jy dit in fases gedoen het. Eers die plan en beplanning en dan stelselmatig gedoen.

Is daar iets wat vandag vir jou soos ʼn berg voel? (Ons is mos bekend met die idioom dat iets soos ’n berg voor jou lê).

As jy al berge geklim het sal jy weet dit was een tree op ’n slag.

Somtyds moet jy ’n wyle rus voordat jy die tog verder aanpak. Somtyds is terugkyk waar jy vandaan kom groot motivering om te volhard. Somtyds doen jy niks anders as om net die volgende tree te sien nie. Durf jy opkyk verloor jy moed as jy sien dat die bergtop nog vêr voor lê.

Aan die einde kom jy tog uiteindelik daar uit.

Gee vandag net een tree op ’n slag.

Breek die taak, roeping, opdrag en taak in kleiner hoeveelhede op.

Doen net wat jy vandag kan doen. God verwag nie meer van jou nie.

Môre is nog ’n dag.

Mag hierdie ’n merkwaardige dag wees vir jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Agie ·

Ek dank U Vader, dat U elke onbekende tree saam met my stap. Dankie vir die pragtige land wat U vir ons gegee het en elke kosbare belofte in U WOORD. Amen

christine ·

AMEN Loof aU Naam. My berg is elke dag kleiner en ek het net ons Vader wat my daardeur dra.

Von ·

Dankbaar Here kom staan ek voor U in verwondering vir U groot liefde en genade vir n mense kind…dankie dankie Here vir elke tree wat U saam met my loop……Amen

Kornel ·

Ek loof en prys Ons Vader vir alles vanoggend en in ons lewe.
Mag ons pae voor-en-toe net beter raak en mag ons ophou om te dink ons kan nie.
Ons kan in die Naam van die Here.
Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.