ToekomsVenster: Stuur my om boodskapper te wees

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Nega/Unsplash.)

Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!” – Jesaja 6:8

Dit is so lekker om jou aan die begin van ʼn  nuwe jaar mooi wense toe te wens. Dit is so dat ʼn nuwe jaar ʼn mens met skoenlappers op die maag los. Die gefladder is omdat jy nie weet wat die nuwe jaar inhou nie. Dat ʼn jaar ons onvoorbereid kan verras het ons immers met die pandemie geleer, nie waar nie?

Nou staan ons weer aan die begin van ʼn nuwe seisoen. Dit is genade dat daar ʼn tyd is en kom vir weer probeer, vir opstaan, vir moed skep, vir diep asem haal en strategies beplan.

Beplan inderdaad. Om sommer blindelings te leef en te hoop dat die lewe goeie dinge sal bring, is effens naïef. Ja, God is die bron van alles wat mooi en goed is, daaraan is daar geen twyfel nie maar, ons is medewerkers van God die Heilige Gees en Hy beantwoord ons gebede dikwels deur van onsself gebruik te maak.

Wat sou die inhoud van jou gebede wees hier aan die begin van 2023? Ek noem ʼn voorbeeld.

“Here, bewaar ons veilig in 2023”.

Uiteraard ʼn relevante en mooi gebed, een wat die Here graag wil antwoord. Die Gees wil jou egter herinner aan die basiese sekuriteit waarvoor jy self moet sorg. God doen wat jy nie kan doen nie. Hy doen nie wat jy nie wil doen nie. Jy en die Heilige Gees is vennote in die beantwoording van jou gebede. Nadat ek alles binne my vermoë gedoen het om my en my mense se veiligheid te verseker, kan ek die Here vertrou om te doen wat ek nie kan doen nie. Ek kan nie elke oomblik van die dag oral wees nie. Ek is nie altyd ewe bewus nie. Ek moet somtyds slaap. Dus, noudat ek die voordeur van ʼn betroubare slot voorsien het, die vensters toegemaak het voordat ons gaan slaap, kan ek die gebed met vrymoedigheid bid. “Here, beskerm ons vannag wanneer ons slaap”.

Dié voorbeeld om ʼn stuk realisme by jou en my aan te wakker. Wat gaan ek en jy doen om die gebede, noem dit maar Nuwejaarsvoorneme ʼn werklikheid te maak?

Breër gestel, watter rol gaan ek speel om nie net my eie ruimte nie maar gedeelde ruimtes veilig, aangenaam en gesond te maak?

Suid-Afrika is daar soveel geleenthede om ʼn verskil te maak. Jy hoef nie ver van die huis af te reis om ʼn behoeftige raak te sien nie. Jy vind stukkende en gebroke mense by jou werkplek, hulle is selfs, en ja, in besonder by die kerk teenwoordig. Die kerk is tog ʼn  versameling van mense wat seergekry het wat op soek na Goddelike genesing.

Hier aan die begin van 2023 hoor ek die bekende woorde van die Here in Jesaja 6:8.

Die Here sal nie van jou iets verwag waartoe Hy jou nie toerus nie, trouens, wat jy nodig het om ʼn  verskil te maak in hierdie wêreld is reeds by jou teenwoordig. Verder het ons sy Woord en sy Gees, ons het letterlik alles wat nodig is om Godvrugtig te lewe.

My wens is dat jy ʼn jaar van verskil maak sal beleef, ʼn jaar van geleenthede en betrokkenheid, ʼn jaar van gehoorsaamheid en geloofsgroei en vertroue.

My gebed is dat die wêreld rondom jou beter daaruit sal sien omdat jy sout en lig is in jou omgewing, dat mense heel sal word na liggaam siel en gees. My gebed is dat jy gawes sal ontdek wat jy nie eers geweet het jy het nie en dat jy vervuld, vrugbaar en voluit sal lewe.

Mag 2023 jou verras. Mag jy 2023 verras.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.