ToekomsVenster: Suiwer die lug

Spekboom (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Julle is die lig, sout van die aarde. – Matt.5:14-16

Verskeie berigte wat in die onlangse verlede verskyn het besing die lof van die spekboom. Die merkwaardige struik lewer ʼn betekenisvolle bydrae om die lug te suiwer terwyl dit sorg vir ʼn goeie dosis suurstof. Dit kan deur mens en dier geëet word en word deesdae by slaaie gevoeg. Daarbenewens hou skilpaaie, vee, bokke en olifante daarvan. Dit is ook waterryk, kan teen sonbrand ingespan word en het medisinale gebruike.

Dit is duidelik dat die maklik aanpasbare plant ʼn aanwins is vir enige tuin en dit is boonop eg Suid-Afrikaans.

Die kwaliteit wat my besonder aanspreek is die vermoë van die spekboom om vuil en besoedelde lug, hoofsaaklik as gevolg van koolstofmonoksied, te absorbeer en noodsaaklike suurstof beskikbaar te stel.

Ons samelewing is somtyds erg toksies. Die vuil lug van vooroordeel, agterdog en onderduimsheid laat ʼn mens bykans verstik. Dit is negatief en beroof ʼn mens, alle mense, van lewenskwaliteit. Dit ontneem ʼn mens van vreugde en ondergrawe hoop.

Te veel mense gee spreekwoordelik hierdie besoedelde lug af.

Christene het nodig om Koninkryksmense te wees. Ons ontgiftig die samelewing van skadelike en siekte veroorsakende gedrag, woorde en optrede. Ons bring heling in ʼn stukkende samelewing en plak genade plakkers op mense se wonde. Ons vertel mense van ʼn ruimte waar jy kan vry asemhaal en nie verstik aan die gekontamineerde lug in die atmosfeer nie.

Soos die spekboom is Christene in oordragtelike sin aangenaam om naby te wees. Hulle bring kleur en versier die wêreld. Hulle bring lafenis en genesing vir die verwondes in die samelewing.

Mag ons gulhartig, groeiende spekbome wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae