ToekomsVenster: Swem binne die bakens

(Foto: Jannie Pelser)

Moenie onverstandig wees nie, soos ‘n perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei. – Psalms 32:9

Die bekende teken op die strand het jou veiligheid in gedagte. Ervare lewensredders en ander personeel bepaal waar die tekens staangemaak moet word nadat alle faktore in ag geneem is. Gewoonlik is vaardige swemmers wat in redding onderlê is beskikbaar om mense wat in nood verkeer by te staan. Sou jy egter op ʼn ander plek swem en baljaar as wat afgebaken is, soek jy uiteraard vir moeilikheid. Dit is onverskillig en moedswillig. Tog is daar mense wat dit altyd buite die bakens wil waag asof hulle ʼn punt wil bewys. “Ek laat my nie voorskryf nie, ek is ook bekend met die see, het stellig daar grootgeword, ek is ʼn ervare swemmer, dit sal nie met my gebeur nie”. Die lysie kan aangevul word.

Is jy ook een van die mense wat dit altyd buite die grense waag en waarom so?

Dit is so dat alle reëls nie altyd sin maak nie. Van kleintyd was ek in opstand oor die onsinnige reëls wat aan my opgedwing is. Reëls wat met die uiterlike verband hou maar die innerlike verwaarloos. Reëls wat mense soos skape in dieselfde kraal wil jaag en geen waardering vir individualiteit en uniekheid het nie. Reëls wat aan jou wil voorskryf en dit nie kan verdra dat jy vir jouself kan dink nie. Ek het nog nie verander wat dit betref nie en sal seker ietwat rebels doodgaan eendag.

Tog is daar reëls wat gehoorsaam moet word, reëls waarby jy jouself moet neerlê. Dink aan reëls wat met die gebruik van die pad verband hou. Hoeveel mense sterf nie jaarliks op Suid-Afrikaanse paaie omdat mense dink dat die reëls net vir ander mense geld nie. In die proses betaal onskuldige mense dikwels die prys.

Moenie soos ʼn perd wees wat gedurig met ʼn stang bedwing moet word nie, leer die teks ons.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.