ToekomsVenster: Sy goedheid, guns en genade

(Foto: pure julia/Unsplash)

Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie. – Jeremia 17:7-8

Ons gaan hierdie week by ʼn aantal seënbedes in die Bybel stilstaan. Daar kan geen twyfel daaraan wees dat God ons wil seën nie. Na alles openbaar Hy Homself as die goeie Vader.

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? – Matt. 7:11

Die vers in Jeremia 17 is bekend en moes al aan duisende mense troos en bemoediging gebring het. Ek is ook daarvan oortuig dat daar duisende mense is wat kan getuig dat hierdie vers hulle in moeilike tye gedra het.

Om jou vertroue in die Here te stel staan teenoor op jou eie insigte staatmaak.

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. – Spr. 3:5

Die vers praat van meer as net ʼn terloopse, skuiling soek by die Here.

Wanneer die lewe moeilik raak onthou jy skielik die teks en herbesoek dit.

God is inderdaad groter as ons gebrek aan volharding en liefde en kom ons ook in sulke omstandighede dikwels tegemoet. Die vers praat egter ʼn lewenshouding, ʼn persoonlike en intieme, dag vir dag wandel met die Here.

Bome by waterstrome is ʼn pragtige gesig. Ek hou veral van die lower groen wilgers wat met hul takke in die water hang. Sulke lang groen lote wat ʼn  lieflike lourier krans vorm as jy daarmee besig raak.

God kroon ons met sy goedheid en guns. Die stroom is lewegewend en verkwikkend in die gedeelte. Hitte en ʼn droë jaar staan teenoor die volhoubare stroom. God se genade-stroom hou nooit op nie. Dit is ook vandag tot jou beskikking. Drink en leef daaruit.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.