ToekomsVenster: Sy naam is heilig

(Foto: Juanita Badenhorst)

“Ons Vader wat in die hemel is. Laat U naam geheilig word.”

Dit kan ook anders gestel word: U Naam is Heilig, of Heilig is U Naam.

Die gebed noodsaak die heiliging van God se Naam, deur ons lewens, deur die wat die gebed bid.

Heilig beteken anders, gans-anders, eenkant, spesiaal.

Dis mense wat mank gaan aan heiligheid wat die Heilige se Naam op hul lippe neem en mag neem.

Die gebed profeteer dat sy Naam eweneens geheilig moet en sal word deur die wat Hom nie erken nie. Dit is ʼn uitgestelde erkenning van sy heiligheid. Wie volhard in rebellie en opstand teen sy gesag, sal dit eenmaal onder dwang doen.

Toe Hy die eerste keer onder ons kom woon het, was dit in nederige self prysgawe. Wanneer Hy weer kom sal dit as die Koning van die heelal wees. (Hy is dit reeds).

Sommige sal dit met selfverwyt moet erken, selfverwyt omdat hulle toe talle geleenthede sigself voorgedoen het selfvoldaan op hul eie trajek voortgeploeter het.

Die Naam van God is ʼn samevatting vir alles wat en alles wie Hy is. Hy is die aller-oorvloedigste bron van alles wat mooi en goed is. Hy word onophoudelik deur die engeleskaar en die lewende wesens in die hemel aanbid. Lof en aanbidding rol soos golwe, onophoudelik, oomblik vir oomblik na Hom. Die ganse heelal kom in beweging as Hy praat. Sy besluite is onomkeerbaar.

Ons kan Hom nie in hierdie lewe na behore aanbid nie. Ons woordeskat is te klein, ons begrip te beperk, ons verstaan gedeeltelik. Wat ons wel van Hom weet en ervaar dwing ons tot eerbetoon.

Eendag sal ons deel word van die skare wat Hom in die volle sin, in Gees en Waarheid, sal aanbid.

Intussen, namate ons groei in ons verstaan van wie Hy is, in die mate waarin Hy Homself deur sy Woord aan ons openbaar, raak ons verwondering by die dag groter en groter.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.