ToekomsVenster: Sy vrede vir ons

(Foto: Lampos Aritonang/Unsplash)

Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! – Numeri 6: 24-26

Hierdie seënbede word dikwels aan die einde van die erediens uitgespreek.

Seënbedes is nie net verdagingsformules nie, inteendeel, dit is veel meer. Seënbedes is toesegging, belofte, nabyheid en voorsiening.

Hierdie besondere seënbede is buitengewoon kosbaar en betekenisvol. Let op die woordjie “sal” wat deurentyd voorkom. Dit laat die ontvanger met ʼn gevoel van hoop, verwagting en troos. “Die Here sal seën, red, genade bewys, gebede verhoor en vrede gee”.

Wat ʼn merkwaardige pakket van genade.

Seën is eintlik die opsomming van alles wat in hierdie bede gespesifiseer word. Wie onder die seënende hand van die Here woon en werk het alles wat nodig is om triomfantelik, met oortuiging en vreugde te lewe.

Ons leef in ʼn gevaarlike, ontwrigte wêreld. Sonder om negatief te wees word ons lewens daagliks deur soveel omstandighede bedreig. As jy aan die einde van ʼn dag jou kop dankbaar op die kussing kan neerlê het jy rede om die Here te loof en te prys. Dan kan jy dankbaar verklaar: “hierdie belofte, hierdie seën, het my vandag gedra”.

God se vrede, die “Shalom Jahweh” is ʼn inklusiewe en omvattende vrede. Dit is die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Die “ten spyte, te midde van vrede”.

Dit is verbondstaal, God self is aan die Woord. Dit is nie onderhewig aan omstandighede nie, selfs siekte, hartseer, teleurstelling, ontwrigting en trauma kan dit opgehef nie.

ʼn Mens kan sterk staan as jy vrede het.

Die wete dat God nie beheer verloor het nie.

Die wete dat jou naam geskrywe staan in die boek van die lewe en van die Lam.

Die wete dat sy Woord, die finale Woord is.

Die wete dat, in die woorde van die bekende Romeine 8:38-39, selfs die dood ons nie kan skei van sy liefde nie.

Kom ek haal die bekende gedeelte aan: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Derhalwe sluit ek vandag se oordenking af soos Paulus van ouds menige brief afsluit:

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. – 2 Kor. 13:13

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.