ToekomsVenster: Taal wat bemagtig


praat-mikrofoon

Foto: Playbuzz.com

Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. – Lees Efesiërs 4:29

Die brief van Jakobus het ons al geleer dat die tong soos die roertjie van ‘n skip is wat die hele skip in ‘n bepaalde rigting stuur (Jak 3:4).  Die tong stuur ‘n mense se hele lewe. En, waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Luk 6:45).  Jou denke word blootgelê deur dit wat jy sê.

Die manier waarop jy taal gebruik, kan jou lewe beperk of bemagtig.  Taal is immers een van die filters wat bepaal hoe inligting in jou onderbewuste gestoor word.  Dit wat in jou onderbewuste gestoor is, het weer ‘n invloed op jou uiteindelike gedrag.

Ons weet hoe maklik dit eintlik is om mense bang te praat, of negatief in te stel.  Sê byvoorbeeld vir ‘n kind in sy vormingsjare dat hy / sy ‘n verloorder of onnosel is en kyk hoe negatief dit hulle beïnvloed vir die toekoms.  Dit lei daartoe dat hulle drome, selfvertroue en prestasies erg benadeel word.  Dit neem baie moeite om negatiewe oortuigings weer om te swaai, veral as dit lankal vasgelê is.   Dit is dus uiters voordelig om jou kinders van kleins af te bemagtig deur die taal wat jy gebruik.

Bemagtigende taal is die taal wat positief gerig is en juis poog om moontlike beperkinge om te swaai in geleenthede.  Ek kan byvoorbeeld beperkend praat deur te sê: Ek is te oud vir ‘n nuwe begin; óf ek kan bemagtigend praat deur te sê: Ek is nou oud en wys genoeg vir verandering in my lewe.  Ek kan beperkend praat oor ons land en sy mense en byvoorbeeld sê: Suid-Afrika is vol haat en misdaad, daarom ons moet liewer emigreer; óf ons kan bemagtigend praat deur te sê: Suid-Afrika het soveel welwillende mense.  Kom ons vat hande en bou aan ‘n nuwe waardesisteem vir ons mooi land!

Ons het almal êrens invloed in vriendekringe of in ons werksomgewings.  Dit is by uitstek geleenthede om deur positiewe opbouende taal die hele atmosfeer om te draai (Ef 4:29).  Wees ‘n motiveringspreker in jou eie omgewing!

  • Wonder jy waar en hoe ‘n mens die stiltetyd-dagboek vir 2015 kan bekom? Jy bestel dit deur vir Drienie te skakel by 011 665 2017 of deur ʼn epos te stuur aan [email protected]. Loer ook gerus in by die webadres: toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.