ToekomsVenster: Tasbaar

kind-teddiebeer-paadjie

Foto: Pixabay.com

“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: Sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het Sy liefde in ons Sy doel volkome bereik.” – 1 Johannes 4:7-14

Daar was ’n meisie in een van ons Echohuise wat baie seergekry het deur die dinge wat haar eie familie haar aangedoen het. Dit was vir haar moeilik om te glo dat God haar liefhet.

Toe sy een middag na skool by die huis die brief lees waarin haar kêrel vir haar sê dat hy die verhouding finaal beëindig, was die hartseer eenvoudig te veel; sy het die strate ingehardloop en aangehou met hardloop totdat sy nie meer kon nie. Sy het later nie geweet waar sy is nie en moedeloos op ’n sypaadjie gaan sit en huil.

Iewers agter haar het ’n tuinhekkie oopgegaan.

’n Vrou het nader gestap en langs haar kom sit. Die vrou het die meisie probeer uitvra, maar gou besef dat die kind te hartseer is om te praat. Sy het haar arm om die kind gesit en vir amper ’n halfuur lank net daar gesit en haar vasgehou, in stilte.

“Ek het nog altyd gehoor hoe julle vir my sê God het my lief,” vertel die meisie my later, “maar daai dag kon ek dit vir die eerste keer voel.”

Miskien is dit die rede waarom die Nuwe Testament sê ons is God se liggaam; sodat mense tasbaar sal voel dat God vir hulle lief is wanneer ons vir hulle lief is. Jesus het kom wys dat God nie net groot en misterieus is nie, maar ook tasbaar naby.

Gedagte

Moeder Teresa het gesê dat as jy ’n honger kind op straat sien en jy sou in ontsteltenis tot God uitroep en vra waarom dit so is, jy Hom in jou hart sal hoor fluister, “omdat jy hom nie kos gee nie.”

Gebed

Here help my om U liefde tasbaar te maak vir iemand. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

My skoonma het ‘n paar jaar gelede die skoktyding van haar suster se dood gekry. Sy het buite gaan staan en wag vir iemand om haar op te laai om te gaan groet. Terwyl sy in uiterste hartseer buite staan het hul bure se tienerseun uitgegaan, en sy arm om haar gesit. Niks gesê nie, net saam met haar gewag. Ek sal dit nooit vergeet nie. Conrad, ek was so trots op jou, ek dink jy is ‘n jong man waarop enige ouer met reg trots kan wees. Dit was God se liefde en Ouma Hyla het dit op daardie oomblik bitter nodig gehad.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.