ToekomsVenster: Te geseënd om te kla

Foto: Guillaume de Germain/Unsplash.com

En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. – Kolossense 3:15

Gelowiges, met name die kerk se werk is duidelik uitgespel. “Gaan en maak dissipels van alle nasies en leer hulle om alles te onderhou”. Die opdrag is heerlik verpak tussen “aan my is alle mag in die hemel en op aarde gegee” en “weet ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld”. (Matt.28:19)

Taal is ʼn belangrike instrument soos ons sien op die dag toe die Heilige Gees uitgestort is. Mense het die groot dade van God in hul eie taal gehoor. Ons bid immers meestal in ons moedertaal.

Daar word baie oor die voortbestaan van Afrikaans gepraat en dit raak ons uiteraard. Alida Kok, dosent in politiek aan Akadamia skryf hoedat “kletsrym” ʼn  besondere bydrae lewer om Afrikaans dinamies, nuut en eietyds te verpak.

“Kletsrym” is vir my oor net te vinnig maar die lied wat deur Bouwer Bosch gesing word (sjoe nou het ek probleem, is dit ʼn lied en is dit sing?) het ʼn aansteeklike refrein wat lui “# Blessed”.

Die gemaklike, in Alida se woorde, “Afrikaanse en veral Oos Kaapse hip-hop en slordige Standaardafrikaans” bou ʼn brug om Afrikaans as universiteitstaal ʼn nuwe lewenslyn te gee. multitaligheid is op ʼn manier verfrissend en vermaaklik. Die woorde van die brug gedeelte in die voordrag lui

“Loadshedding, potholes, staatskaping, SARS-rekening, TV licences, studieskuld – ek is #Blessed”.

My verstaan is dat tientalle dorings in die vlees ten spyt Christene steeds meer as genoeg rede het om die lewe te vier.

God is in beheer. Hy sorg en versorg. Ons het meer as genoeg. Ons het rede om fees te vier. Ons kan vandag jubelend lewe.

Ek wonder of jy ook, mag ek die woord gebruik “default” na kleinserigheid, negatiwiteit, kritikasterigheid en pessimisties ʼn donkerbril dra wanneer nog slegte nuus op die TV skerm verskyn en of jy dalk gaan leer om die nuutste ongemaklikheid met “Ek is #Blessed” te begroet.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.