ToekomsVenster: Te midde van beproewing

moeilik-uitdaging-klim-berg-ys

Foto: Robert Baker/Unsplash.com

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. – Jakobus 1:2-4

Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. – 2 Petrus 2:9

Beproewings is nie iets waarna enige van ons uitsien nie tog, is dit te ene male deel van die lewe.

Dit is en bly ʼn deur die sonde geaffekteerde lewe en die nawerking van die verkeerde keuses wat Adam en Eva gemaak het, is steeds met ons. Ons het aan daardie selfde sonde deel totdat en tensy die Here Jesus ons daarvan verlos.

Nie alle beproewings is sonde verwant nie. Die lewe gebeur en ons moet daarmee verlief neem. Dit beteken nie dat ons fatalisties leef nie, maar realisties. Ons het die uitnemende versekering uit God se Woord dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie. (Rom.8:31vv) Daarvoor is ons diep dankbaar.

Dat beproewings op mense se pad kom word deur die hele Bybelse boodskap demonstreer en bevestig. As dit so was dat die lewe van ʼn gelowige altyd van maanskyn en rose moes getuig sou baie Bybel figure die toets nie geslaag het nie. Daarom word die Bybel veral van wee sy eerlikheid en deursigtigheid waardeer en gee dit moed aan almal wat dit lees en met die boodskap daarvan identifiseer.

Die gedagte dat beproewings ʼn mens bly moet maak is aanvanklik vreemd. Beproewings dryf tot trane, laat ʼn mens somtyds moedeloos en hopeloos voel, kan mens desperaat maak as daar nie ʼn oplossing kom nie. Jakobus se denke is dat geloof juis te midde van beproewings van allerlei aard tot werking kom. Dit spreek vanself dat wanneer alles goed gaan, geloof bykans irrelevant en ʼn bysaak is. Dit beïndruk niemand nie.

Dis die verhale van mense wat te midde van erge beproewing vas bly staan het in die geloof wat ʼn mens se verbeelding aangryp. Jakobus stapel die vrug van geloof te midde van beproewings op mekaar. Geloof, volharding, geestelike rypheid, geen tekortkoming nie. Ons moenie toelaat dat beproewings ons so vinnig in vrees laat ontvlug nie.

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. – 2 Kor.4:17

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lena Jonk ·

Dankie Jesus vir daardie versekering dat ons ewige rus by U sal wees. Ons loof U, ons prys U vir dit alles aan ons sondige mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.