ToekomsVenster: Te veel bagasie

tasse-vintage

(Foto: @erwanhesry/Unsplash)

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoesdig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. – Matt 11:28-30

Ek bly op ʼn manier by die tema van die afgelope paar dae en vandag wil ek met jou oor bagasie praat.

Jaco Strydom het ʼn boek geskryf met die tema, “Leef lig“. Hy verwys na geloofsgewoontes wat in die vroeë kerk in gebruik was en wat daarop gemik was om afstand te doen van die swaar gedraery.

God roep ons om lig te reis. Wie kan ʼn wedloop met allerlei loshangende gewig oortuigend hardloop. As jy ʼn wedloop wil voltooi sorg jy dat jy so min as moontlik gewig met jou saamdra anders gaan jy dit nie suksesvol voltooi nie.

In die jare wat ek dominee is, het ek tientalle huwelike bevestig, gewoonlik ʼn heerlike, romantiese en mooi affêre.

Ek bewonder die jongmense wat sterre in die oë het en nie kan wag om die lewe saam aan te durf nie. In voorafgesprekke word mekaar se lof besing en uiteraard is daar niemand anders wat die leemte in hul lewens kan vul nie.

“Ons gesels so lekker, ons vul mekaar aan, ons is goeie kamerade, ons kan ons hande nie van mekaar afhou nie,” word dit vertel.

Die “bagasie-tassie” het saam die vertrek ingekom en is mooi onder die tafel geparkeer. Aan die einde van die gesprek groet die voornemende huwelikspaar vriendelik, neem afskeid maar neem die tassies saam.

Dis eers later dat die tassies uitgepak word.

Dit word meer dikwels tydens wittebrood in die kas weggepak. Nie lank na die wittebrood nie gebeur die lewe. Nou word die tassie te voorskyn gebring. Onverwerkte emosies, seerkry, gevoelens, voorbehoude, lewensingesteldhede, onverhandelbare beginsels, rolverwagting, politieke en selfs godsdienstige affiliasie kom nou op die oppervlakte.

“Skielik haak ons. Die kommunikasie vlot nie meer so geredelik nie. Ons begin twyfel of ons werklik aanpasbaar is.”

Verkeerde vriende bevestig die vermoedens en dan word die kortpad na skeihof gevat.

Met die verloop van tyd ontwikkel hulle gewoonlik darem weer die vertroue om dit weer in ʼn verhouding te waag. Dan sien die paartjie weer die dominee om die troureëlings deur te praat. En die tassies kom weer saam.

“Hierdie slag gaan dit anders wees” maar net tot die volgende ontnugtering.

Die tas moet uitgepak word. Die items moet sorteer word. Die vertrekpunte moet getoets word. Die leuens moet onderskei word. Die seerkry en teleurstelling moet besoek word.

Dit is tyd vir eerlik wees.

Jy en jou maat moet praat oor die bagasie in elkeen se lewe en besluit wat julle daarmee gaan doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U wat ons deur en deur ken weet van ons bagasie al steek ons dit vir ander weg…dankie Here dat ek dit by U voete mag los..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.