ToekomsVenster: Tekens van God se Koninkryk

windpomp-sterre-hemelruim-melkweg

(Foto: Emily Goodhart/Unsplash)

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys. – Lukas 24:50-53

Lukas in die boek Handelinge sluit aan by die Hemelvaart van Jesus. Hy vertel dat Jesus voor sy vertrek opdragte gegee het wat met die Koninkryk verband hou. Sy regmatige verwagting is dat ons aan daardie opdragte uitvoering gee.

Die Koninkryk is strategies in Jesus se denke. Die Koninkryk van God is die antwoord op al die sukkel en swaarkry van hierdie wêreld. Hy nooi mense soos ons uit om burgers van daardie hemelse samelewings verband te word. Intussen leef ons die beginsels daarvan op aarde uit. Die kernbeginsel is uiteraard die liefde. Oor daardie liefde het ons lekker gesels in die onlangse verlede. Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie, daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Wanneer Jesus sy dissipels op hul versoek aangaande gebed onderrig hou een frase juis verband met die Koninkryk: “Laat U Koninkryk kom en U wil geskied op die aarde net soos in die hemel”. Daarmee is ons dienswerk duidelik afgebaken en gedefinieer.

Ons taak is om die hemel aarde toe te bring. Ons rig deur ons lewens, ons interaksie met ander mense tekens op van God se Koninkryk. In en deur ons woorde en dade leer ander mense hoe die hemel daar uitsien. Hulle verneem ook Jesus se vriendelike dog dringende uitnodiging om daarvan burgers te word.

In die hemel is daar nie hartseer, honger, naaktheid en eensaamheid nie. Deur die hande en voete, die oë en die ore van Jesus te wees rig ons ander mense op daardie komende werklikheid. Dit beteken dat ons mense met hoop vervul te midde van ’n stukkende werklikheid.

Die nag het inderdaad ver gevorder en dit is amper dag. Paulus maan ons om die werke van die duisternis af te lê en met die dinge van die lig besig te wees. Is dit ook van jou waar?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.