ToekomsVenster: Terwyl dit nog vandag is

(Foto: Remi Yuan/Unsplash.)

Jesaja 55:6-9 – Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Môre is nog ʼn dag veral wanneer dit by geestelike sake kom. “Ek sal môre” is ʼn bekende uitspraak by die wat die roepstem van die Here stil probeer maak.

Die vraag is net of daar ʼn môre sal wees. Daarvan is niemand seker nie. As daar een ding is wat Covid-19 ons geleer het is dit juis hoe kortstondig die lewe is, nie waar nie.

Die Bybel se appel is duidelik op “vandag”. Vandag as julle sy stem hoor moet julle nie verhard nie.

Die bedoeling is egter nie om mense in vrees vir ʼn onseker toekoms ʼn noodweer besluit te laat neem nie.

Om Jesus te volg is ʼn hartsaak. Dis kom vanuit ʼn oortuiging dat die lewe net sin maak as Hy op die regte plek in ʼn mens se lewe inpas, nl. op die troon.

Noodbekerings, emosionele besluite en massa hipnose werk nie op die langduur nie. Mense stap van daardie ervarings af weg ontnugter en teleurgesteld. Hulle kom nie weer na Jesus toe nie. Hulle sê ek het dit een keer probeer en dit  werk nie. Dit is in elk geval nie wat die Here wil hê nie.

Om Jesus te ken is ʼn liefdesaangeleentheid. Jy is so oorstelp met die gedagte dat God in Christus ook vir jou raaksien, dat Hy ʼn besondere plan met jou lewe het.

Dat Hy jou in sy hand styf vashou. Dat Hy sy beloftes in jou lewe wil waarmaak, dat Hy jou in die koms van sy Koninkryk wil gebruik, dan kan  jy nie anders kan as om ja te sê en ja te lewe nie.

Ja sê moet met ja lewe opgevolg en bevestig word.

Lippediens alleen sal nie help nie. Nie elkeen wat vir my se Here Here word gered nie maar net die wat die wil van my Vader doen wat in die hemel is lui die bekende teks.

Die Here is naby. Dit is nog die aangename dag die dag van redding. God het jou lief en het ʼn merkwaardige plan met jou lewe.

Moenie uitstel nie. Jy loop die lewe mis. Om Hom te ken is mos die lewe!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.