ToekomsVenster: Troos en ’n waarskuwing

(Foto: Jon Tyson/Unsplash)

Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi. – Openb. 20:13-15

Ons gesels hierdie week oor die werklikheid van die dood, die een afspraak wat niemand sal mis nie. Iemand se tong in die kies, die dood is 100% effektief.

Ja, dit staan soos ʼn paal bo water, een of ander tyd sal die engel van die dood aan jou en my deur kom klop. Ek is so dankbaar dat ons hierdie week bemoedig kon word met Skrifgedeeltes wat daarop gerig is om ons vrese te besweer en ons met geloofsmoed en vertroue te vul. As jy dit nie kon volg nie kan jy terug luister. Dit sal vir jou baie vrede bring.

Daar is sprake van die fisiese dood. Dit is wanneer ons aardse bestaan opgehef word, ons aardse tentwoning afgebreek word en daar ʼn skeiding plaasvind tussen gees en liggaam.

Dan is daar die geestelike dood. Ons is in sonde ontvangs en gebore en tensy ons wedergebore word kan ons die hemelse heerlikheid nie beërwe nie. Goddank dat Hy In Christus Jesus ʼn pad gemaak het, die dood se vashou verbreek en ons van ʼn Godsalige toekoms verseker.

Tensy ʼn mens jou volledig verlaat op die genade van God kom die derde soort dood ter sprake, die tweede dood. Dit is die hartseer toekoms van mense wat in hartstogtelike verset teenoor God lewe. Ongelukkig is daar sulke mense, mense wat die aanspraak wat God skeppings matig op hulle het ontken en in eie krag die verkeerde pad loop en bly loop.

Die teksvers bevat derhalwe troos en ʼn waarskuwing. Die dood en doderyk word in die poel van vuur gewerp maar ook die wie se name nie geskrywe staan in die boek van die lewe en van die Lam nie. Hoe hartseer dat daar mense is wat willens en wetens hierdie doodloopstraat bewandel. Dit lei nêrens heen nie, trouens, dit lei ʼn ewige toekoms sonder die geleentheid om ooit weer reg te maak met jou Skepper.

Nicodemus se gesprek met Jesus is ter sake – jy moet weergebore word. Jy moet twee keer verjaar, jou aardse natuurlike verjaarsdag en jou geestelike verjaarsdag. In my lewe die 27 Januarie 1977. Daar het God se guns vir my ʼn werklikheid geword en het ek my volledig op sy genade gewerp. Sonder Hom kan ek nie lewe of sterwe nie. Derhalwe die twee verjaarsdae. Jy moet twee keer gebore word, dan sterf jy net een keer. As jy in die tweede geboorte nie deel nie sterf jy twee keer. Die tweede dood word hierdie sterwe genoem.

Hoor die Woord van die Here:

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. – Jesaja 1:18

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
OW

‘n Baie goeie en beskrywende skrywe van die dood ds Jannie.Duideliker kan dit nie wees nie.Baie mense sê, moet die lewe nie te ernstig opneem nie,maar wat hulle nie weet nie,is dat hoe jy hier en nou lewe,bepaal wat van jou word in die hiernamaals.So hierdie lewe is ‘n baie ernstige saak.God gee vir ons die volheid van die lewe as ons glo,vertrou en baie belangrik gehoorsaam is.Groetnis.