ToekomsVenster: Troos vir die toekoms

vertroosting

Argieffoto.

So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. – 1 Kor.15:42-44

Paulus verduidelik aan die gemeente in Korinte hoe dramaties die nuwe liggaam verskil van die aardse. Hy verwys na die verganklikheid van die liggaam, die tydelikheid daarvan en stel daarteenoor die onverganklikheid van die toekomstige.

Ons teksvers kontrasteer vandag twee sake met mekaar – die geringheid van ons huidige bestaan en die heerlikheid van ons toekomstige bestaan.

Die ou vertaling praat van “oneer”, die Engelse eweknie praat van “dishonor”. Die Boodskap se vertaling is besonders: Die liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam sal ons maar net kan oorloop van trots.

In Filippense skryf Paulus oor hierdie merkwaardige verandering wat met die verskyning van Jesus gebeur: Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

Die heerlikheid waarvan gepraat word, is dieselfde heerlikheid wat Jesus se opstandings liggaam gekenmerk het.

Die periode tussen Jesus se opstanding en sy Hemelvaart gee ons ʼn hele aantal interessante feite wat nie anders kan as om ʼn mens opgewonde te maak nie.

Jesus het nie as ʼn gees rondgeswerf nie maar ʼn egte opstandings liggaam gehad. Jesus was uiteraard herkenbaar in sy opgestane heerlikheid.

Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.- Luk 24:39-40

Daarbenewens het Jesus voedsel ingeneem. Eet is nogal belangrik vir ons en die gedagte dat ons in ons opstandings gestalte sal eet, is interessant. Jesus het ook tydens die groot visvangs saam met sy dissipels ontbyt geniet..

Jesus nooi sy dissipel tydens sy verskyning aan hulle uit om aan hom te vat, Hy is tasbaar teenwoordig.

Terwyl al hierdie dinge waar is, is Jesus nie aan die normale aardse beperkinge onderworpe nie. Die deure is toe maar Jesus daag in volle heerlikheid by sy dissipels op.

Miskien bied die gedagtes wat ons vandag met mekaar gedeel het, troos vir die toekoms.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.