ToekomsVenster: Tyd alleen saam met God


skryf-jou-eie-storie

Argieffoto.

Ons is in 2017 en ʼn gevoel van opgewondenheid en opwinding reis saam met ons. Ons word steeds gekonfronteer deur baie uitdagings in die Suid-Afrikaanse konteks. Mag die Here ons leiers met wysheid en insig seën om ʼn veilige ruimte te skep waarbinne die evangelie sy voortgang in hierdie wêreld en land kan vind.

Ons het reeds voorgestel (hoe dan anders) dat die Bybel jou reisgenoot word in 2017 en dat jy jou lewe wy aan die goeie dade waartoe Hy jou bestem het in Christus Jesus (Ef 2:10).

Vandag wil ek graag die belangrikheid van tyd alleen saam met die Here onderstreep. Gereelde, beplande, gestruktureerde, “dagboek”-alleentye saam met God.

Skeduleer ʼn dag in ʼn week, ʼn naweek in ʼn maand, ʼn paar dae in ʼn termyn, elkeen se tyd en situasie verskil. Ek praat nie van jou gereelde stiltetyd en reis saam met ToekomsVenster nie.

Dit gaan hier oor ʼn gereelde liefdesontmoeting met die groot “Ek is”.

Daar sê jy onbevange “Spreek Here, ek luister”.

Let wel, sonder die stadsgeruis, die motors en lugverkeer, veel eerder ʼn plek van afsondering in die natuur terwyl die voëls sy lof besing en die geruis van die wind deur die bome jou Geesbewus maak.

Toe die apostels terugkom, het hulle Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Daarna het Hy hulle saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. – Lukas 9:10

Die dissipels was alleen saam met Jesus.

Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen. – Johannes 6:15

As dit nodig was in die lewe van Jesus, des te meer ook in ons besige programme. Dit kos dissipline maar die opbrengs is ongeëwenaar.

Ruim tyd alleen saam met die Here in 2017 in.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.