ToekomsVenster: U bedoeling vir my lewe is goed

koring-gort-grasveld

Foto: Pixabay/Pexels.com

En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. – Fil. 4:19

O, ons kan onsself darem baie skade berokken deur die goed wat ons sê.

Herken jy uitlatings soos die volgende?

  • “Nee, ons Pelsers het die merk voor die kop. Jong, as iets iemand tref, dan sal dit vir ons wees. Ons is ongeluksvoëls.”
  • “Dit sal tog nie met my gebeur nie.”
  • “Ek het agter in die ry gestaan toe verstand uitgedeel is.”
  • “Ek en syfers, nee wat, vergeet dit.”
  • “Ons sal dit nooit kan bekostig nie. Dis nie vir ons beskore nie.”

Hoe in die lewe het ons gedink sal enige iets goed en betekenisvol met ons gebeur as ons so afbrekend na onsself en ons omstandighede verwys?

Die Bybel maak dit immers duidelik dat die Here manjifieke dinge vir ons in gedagte het. Hy weet wat Hy vir ons beplan en dit is uiteraard nie een van die dinge wat ons oor onsself bely het nie (Jer. 29:11).

Ek kan my kinders nie alles gee wat hulle vra nie, maar doen alles binne my vermoë om dinge vir hulle moontlik te maak.

Hoeveel te meer ons hemelse Vader?

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? – Matteus 7:11

Julle het nie omdat julle nie vra nie en as julle vrae is julle so vol twyfel, soos die branders van die see, moenie dink dat julle enige iets van julle Vader sal ontvang nie. – Jakobus 4:2

God word verheerlik deur kinderlike opgewondenheid en geloofsvertroue.

Die kinderliedjie sê mos: “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen.”

Ek is die appel van sy oog en Hy is gaande oor my, en jou, ons en hulle (Deut. 32:10).

Hy voorsien elke behoefte volgens die rykdom van sy genade in Christus Jesus en is in staat om meer te doen as wat ons selfs dink of voorstel.

Gebed

Here, dankie dat U bedoeling vir my lewe verbeeldingryk en goed is. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Aj ·

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Jer. 29:11

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.