ToekomsVenster: ‘U goedheid en liefde sal by my bly’

God-se-goedheid

(Foto: Reint Dykema)

Dankie dat ons hierdie week ʼn bietjie kon saamkuier rondom Psalm 23. Die enkele gedagtes uit ons gesprekke kan nie eers begin om die besondere betekenis van hierdie Psalm aan die orde te stel nie.

Sulke mooi oomblikke kom in hierdie Psalm voor.

Die oorvloed van God se genade soos verwoord in die groen weivelde, waters en plekke waar daar vrede en rus en nuwe krag is.

Die wysheid wat God gee sodat ons die regte besluite kan maak vir ons lewens en die regte pad kan bewandel.

Die teenwoordigheid van die Here te midde van die grootste aanvegtinge, donker dieptes en alles wat daarmee gepaard gaan.

Die wonder van God se genade, dat ons troos en versterking put uit sy teenwoordigheid en nie hoef bang te wees nie.

Die waarheid dat Hy ons in sy hande vashou soos die liedjie sê: “Hy hou die hele wêreld in sy Hand”.

Die wonder daarvan dat ons uitgenooi word om aan te sit aan die tafel van die Here. Daar waar ons soos eregaste ontvang word, oorlaai met hartlikheid.

Die Psalm sluit af met die volhoubaarheid van God se liefde, trou en sorg in die lewe van sy kinders.

Wat Hy begin het, sal Hy klaarmaak sê die Bybel. Hy gee nie op met ons nie, maar bly ons deur die Heilige Gees transformeer om al hoe meer soos sy Seun te word.

Vandat ek die eerste lewenslig aanskou het tot op die dag dat ek my asem uitblaas, is die teenwoordigheid van die Here ʼn realiteit. Ook daarna bly ek in die teenwoordigheid van die God van die Bybel.

Die digter sê: “U goedheid en liefde, sal my lewe lank by my bly”. Dit was waar van gister, dit is waar van vandag. Dit is waar vir môre en tot op die dag dat Jesus op die wolke kom.

Dit is my gebed dat Psalm 23 op ʼn nuwe manier ʼn werklikheid sal word in jou lewe. Dat jy dit as ʼn Psalm vir die lewe sal ervaar, die wete dat God met jou en jou geliefdes op pad is.

Uiteindelik vind hierdie Psalm sy volle vervulling in die ewigheid. Die dal van doodskaduwee en die bedreiging van teëstanders sal dan ten volle opgehef wees. Daar sal ons nie oor raad verleë wees nie, ons sal ons nie bekommer oor die toekoms nie, nooit weer bang wees nie.

Inderdaad iets om na uit te sien, maar tot dan bly Psalm 23 ʼn rigsnoer vir die lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.