
Foto: pixabay.com
“Hulle het egter met ʼn harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry.” – Lukas 23:23 (AFR83)
Oral word Swart Vrydag-aanbiedinge geadverteer en dit sal in die volgende dae momentum opbou. Swart Vrydag is die eerste keer in 2012 in Suid-Afrika aangebied en het sedertdien gegroei tot ʼn volskaalse winskoop-jagtery. Dit is veral Kersgeskenke waarna gesoek word.
Of alle aanbiedinge inderdaad winskopies is, is te betwyfel. Pryse het die afgelope tyd so geëskaleer dat ʼn mens skaars kan byhou. Ek wonder stellig of dit nie net die eskalasie is wat skielik weggeneem word en dan ʼn sogenaamde winskoop verteenwoordig nie. Nietemin, om alles te kroon, is daar na Swart Vrydag op 24 November ʼn Cyber-Maandag waar slegs aanlyn aankope gedoen kan word op daardie dag. Daarna is dit neusie verby.
Die swart in Swart Vrydag dui daarop dat sakeondernemings die geleentheid kry om deur goeie verkope uit die rooi van skuld te kom. Swart in hierdie sin is positief.
Die hele Swart Vrydag-aangeleentheid herinner aan nog ʼn baie betekenisvolle Vrydag in die geskiedenis, die Vrydag toe die Seun van die mens aan ʼn kruishout genael is vir onverdienstelike sondaars. Ons verwys daarna as Goeie Vrydag. Vir Jesus was dit ʼn swart Vrydag as ʼn mens swart hier in ʼn onheilspellende konteks gebruik.
In die oordragtelike sin was ons in die rooi, diep in die skuld by God. Jesus het ons skuld uitgedelg en ons met sy Vader versoen.
Ons roeping op aarde is om mense deur ons lewe en optrede op te roep om by God Drie-enig te kom koop, wyn en melk, sonder geld of teenprestasie. Al wat van ons verwag word, is om in en uit dankbaarheid vir God en ons medemens te leef.
Is jy al uit jou skuld uit?
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.