ToekomsVenster: Uit die Gees gebore


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Johannes 3:3, 5

Jesus het daarop gereageer: Ek verseker jou, as iemand nie weergebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie … As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy so nimmer as te nooit in die koninkryk van God ingaan nie.

UIT DIE GEES GEBORE

Nikodemus was besorg. As Fariseër het hy die Skrifte geken, maar nie die krag van God nie. Die wondertekens wat Jesus gedoen het, het hom oortuig dat daar méér is as wat hy ken. Jesus los nie vir Nikodemus in die duister nie, maar verduidelik vir hom dat hy nodig het om in God se koninkryk in te gaan. Dít is slegs moontlik as ʼn mens uit water én Gees gebore is. Daar word uiteenlopende verklarings vir hierdie Skrifgedeelte gegee.

  • Uit water gebore beteken om fisiek uit ʼn vrou in hierdie wêreld gebore te word. Dis dan ook waarom Johannes 3:6 aandui dat wat uit ʼn menslike liggaam gebore is, menslik is. Terwyl wat uit die Gees gebore is, gees is.
  • Daar is ook ʼn denkrigting wat aanvoer dat uit water gebore verwys na die doop, wat Jesus aangedui het met bekering gepaard moet gaan, vergelyk Markus 16:16 en Matteus 28:19. Na aanleiding van Romeine 6:3-7 voer verklaarders dan aan dat wanneer die bekeerling gedoop word, daar identifikasie met die sterwe en opstanding van Christus plaasvind, wat op weergeboorte dui.

Kom ons aanvaar dat hoewel ons hier met twee uiteenlopende verklarings te make het, daar slegs een beginsel agter albei verklarings is, naamlik dat alle mense twee maal gebore moet word. En dis híéroor wat ons met mekaar in gesprek is. Elke mens móét ook uit die Gees gebore word!

Kom ons lees die onderstaande teks binne hierdie konteks:

Handelinge 8: 4 – 5; 14 – 17

Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het,  die evangelie verkondig. So het dit gebeur dat Filippus by ʼn stad in Samaria gekom het en Christus daar verkondig het. Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,  want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. Die apostels het hulle die hande opgelê en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Waarom sou die eerste generasie gelowiges in Samaria, toe hulle in die Naam van ons Here gedoop is, nie terselfdertyd ook die Heilige Gees ontvang het nie? Ons weet tog uit Paulus se skrywes dat elkeen wat vir Jesus aanneem, terselfdertyd ook die Heilige Gees ontvang (Efesiërs 1:13-14). Wat probeer Lukas hier in Handelinge kommunikeer? Is dit moontlik dat hulle nie bewus was daarvan dat die Heilige Gees se inwonende teenwoordigheid hulle ook sou bekragtig nie? Was dit dalk die lering van die apostels wat hulle later daartoe gelei het om hul lewens oop te stel vir ʼn dieper verstaan van die Heilige Gees se werking in hulle lewens?

WIE WAG VIR WIE?

Dis meer as 2 000 jaar sedert die uitstorting van die Heilige Gees en tog lyk dit asof die kerk van die Here Jesus nie groei in die betoning en krag van die Heilige Gees nie. Wag ons miskien vir God terwyl Hy vir ons wag? Wag ons dalk dat die gebou geskud moet word terwyl Hy wag dat ons sal ontsluit wie gereed staan om in en deur ons te opereer?

TOEWYDINGSMOMENT

Het jy al doelgerig jouself beskikbaar gestel vir die wonderlike leiding en buitengewone salwing van die Heilige Gees? Vra die Here om vir jou sy bedoeling met al hierdie dinge te wys. Vra vir die Heilige Gees om Homself aan jou te openbaar. Lees Jakobus 1:5: God het belowe om jou met wysheid te lei.

GEBED

Heilige Gees, ek wil doelgerig vanuit my verhouding met U opereer. Ek stel my oop vir U buitengewone krag en gawes. Ontsluit u vuur in my. Amen.

PRAKTYK

Is jy bereid om voortaan staat te maak op God se vermoë in plaas van jou eie vermoë? Sal jy toelaat dat sy krag in jou swakheid volbring word? Maak dan van vandag af staat op die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees om vir jou te wys waar en hoe Hy deur jou aan mense wil raak met ʼn woord of daad van bemoediging en seën.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.