ToekomsVenster: Uit genade gered

grassade-voor-water

(Foto: Aleesha Schmidt/Unsplash)

As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het. – Gal. 2:25

Sou ek byvoorbeeld ʼn verkeersboete kry en jy bied aan om dit namens my te betaal, sou ek sekerlik baie dankbaar wees.

  • Is ek skuldig aan die oortreding? Inderdaad.
  • Verdien ek om gestraf te word, weliswaar by wyse van ʼn boete? Sonder twyfel.
  • As ek in gebreke bly om die boete te betaal, sou ek in groot moeilikheid wees? Natuurlik.
  • As jy dan na vore tree en die boete namens my betaal, verdien ek die liefdevolle gebaar? Nee, hoegenaamd nie.
  • Is dit onverdiend? Ja, dit is.
  • As ek reageer en jou vra hoe ek jou kan terugbetaal, sou jy iets kon aandui? Weereens, ja.
  • Sou jy reageer met “niks nie, dit sal lekker wees as jy my vriend sal wees en bly”, sou dit te veel gevra wees? Nee, hoegenaamd nie.
  • Sou ʼn mens die daad wat jy teenoor my pleeg ʼn liefdesdaad kon noem? Natuurlik.
  • Sou jou oproep dat ek jou vriend sal wees te veel gevra wees? Nee, natuurlik nie.
  • Sou enige redelike mense dankbaarheid bewys deur ʼn vriend te wees? Uiteraard.
  • Sou ʼn mens my vriend se optrede as “genade” kon beskryf? Ek reken inderdaad so.

Ek dink jy verstaan wat ek probeer sê.

Ons is uit genade gered, sonder dat ons enige iets verdien en terwyl ons sonder twyfel skuldig staan. Ons het God se wil en wet oortree, onverskillig, in rebellie en opstand, moedswillig en eiewillig gelewe.

In die volheid van die tyd, die Bybel sê “toe ons nog sondaars was”, dus volledig op grond van God se onverstaanbare liefde en goeie gesindheid, betaal Jesus die prys; as jy wil, betaal Hy die kaartjie wat vir my vryspraak beteken.

Wie sal nie dankbaar wees nie? Wie sal nie ʼn vriend van Jesus wil wees nie en inderdaad, Hy roep ons tot vriendskap met Hom.

Ja, gehoorsaamheid is daarvan ʼn integrale deel maar ek dink jy verstaan wat ek bedoel.

Ons kom nie in die hemel op grond van iets wat ons doen nie. Ons kry deel aan die ewige lewe deur die onverdiende genade wat God aan ons bewys daarin dat sy Seun namens ons die prys betaal dankbaar te omhels en op natuurlike wyse vir Hom te lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.