ToekomsVenster: Vandag is anders

(Foto:
Alex Green/Unsplash.)

Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. – Rom. 8:19

Gerhard Verdoorn in ʼn talentvolle skrywer wat met woorde kan toor. In verbeeldingryke taal beskryf hy hoe die aarde sedert inperking tot rus gekom het. Die aarde het stil geword. Uiteindelik.

Daar verskyn verskeie artikels wat getuig van die herstel wat in die natuur gekom het sedert die mens, gedring deur noodsaak moes onttrek. In Indië kan die Himalaja gebergtes, sneeubedek oor ʼn 200 kilometer afstand gesien word. Sommige inwoners getuig dat dit die eerste keer in dertig jaar is dat die berg weer gesien kan word.

In China het die hemelruim opgeklaar namate giftige en skadelike gasse nie meer in die atmosfeer losgelaat word nie.

Maar dit is veral die mens wat tot rus gekom het. Die wyse waarop hulle wêreldwyd innoverend toegetree het om ander se nood, trauma en vrese te help besweer is ongekend. Die medemenslikheid wat internasionaal teenoor mekaar betuig word is aansteeklik. Ons gemeenskaplike bedreigdheid is nou groter en belangriker as die dikwels kleinlike verskille wat op die spits gedryf word. Ons kan mekaar viktimiseer, oordeel en beoordeel as ons die dag onsself oorgee aan selfsug en eiebelang. Vandag is anders.

My kollega, Wimpie, het onlangs so mooi gepreek toe hy gesê het, ons gee nou geboorte aan die wêreld waarin ons na Covid-19 wil lewe. Mag dit so wees. Mag mens en die res van die geskape werklikheid mekaar in ʼn harmonieuse samehang omhels. Mag die misbruik van bronne en van mekaar ophou. Mag politieke opportunisme iets van die verlede wees. Mag ons kyk hoe ons kan saamwerk om die Koninkryk gestalte te gee. Mag ons sagte harte hê. Mag ons vergewe, vryspreek, nuut begin, nuut bou en inhoud gee aan ʼn hoopvolle toekoms.

Vandag is anders. En môre?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir U groot genade vir die mensdom…so onverdiend..Amen

Chris ·

Ons mense kan in ootmoed neerval op ons knieë en God dank vir sy liefde genade en geduld met ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.