ToekomsVenster: Vandag is die dag

(Foto: OC Gonzalez/Unsplash)

Ons gesels vandag oor geleenthede, benutte en verspeelde geleenthede.

Iemand het eendag opgemerk dat die rykste plek op aarde die begraafplaas is. Daar lê soveel onvervulde drome en ideale, soveel onbenutte kanse, soveel boeke wat nooit geskryf is nie en soveel gedigte wat nooit gedig is nie.

Daar lê soveel sakeondernemings wat nooit geopen is nie en soveel ideale wat tot niks gekom het nie. Ek wonder of jy ook daarmee kan identifiseer?

Ons is almal bekend met die sêding wat so gaan, “eendag gaan ek”, en dan volg al die mooi dinge wat ons vir onsself en vir ander visualiseer.

“Eendag gaan ek betrokke raak by ʼn niewinsgewende organisasie wat na bejaardes, kinders, wesies, diere of armes uitreik. Eendag gaan ek ʼn kursus in dissipelskap doen, by ʼn gemeente aansluit of Sondagskool gee.

“Eendag gaan ek, eendag gaan ek…”

Vir die meeste kom daardie eendag egter nooit nie. Ons moet verander.

“Vandag gaan ek, al gee jy net daardie die eerste treetjie.”

Die vraag is dus inderdaad wat verteenwoordig die eerste tree in die vervulling van jou voornemens en drome. Dalk ʼn telefoonoproep, raad vra iewers, by die bank aandoen en aansoek doen vir ʼn lening, toebroodjies maak en by die straathoek afgee.

Jy hoef nie die wêreld te verander nie, net ʼn nederige bydrae te maak om jou omgewing, gemeenskap en verwysingsraamwerk ietwat beter daar te laat uitsien.

Dit is inderdaad wat Jesus se gebed beteken, wanneer hy bid: “laat U Koninkryk kom op aarde, net soos in die hemel”.

  • In die hemel is daar nie eensaamheid nie, besoek iemand vandag.
  • In die hemel is daar nie voedselnood nie, koop ʼn ekstra blikkie sardyne vandag om aan iemand uit te deel.
  • In die hemel is daar nie naaktheid nie, haal ʼn goeie kledingstuk uit jou kas en deel dit met jou naaste.
  • In die hemel is daar nie hartseer nie, haal jou sakdoek uit en droog iemand se trane af.
  • In die hemel is daar nie misverstand, vooroordeel, agterdog, haatdraendheid of hoogmoedige trots nie.

Waartoe roep die hemelse beelde jou wat jou dienswerk betref.

Miskien wil jy hierdie sinnetjie saam met my voltooi: “Vandag, nie eendag nie gaan ek…”

Die Here sal jou deur sy Gees bemagtig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.