ToekomsVenster: Vandag is God se dag

(Foto: Rachel Cook/Unsplash)

“God het immers weer ʼn dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê: ‘Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie’.” – Hebreërs 4:7 (AFR83)

Eendag as ek groot is, gaan ek dié ding of daai ding doen. Eendag as ek geld het, gaan ek hierdie droom verwesenlik. Eendag as ek tyd het, gaan ek skouer aan die wiel sit en daar werklik ʼn verskil maak. Eendag as my kinders groot is, gaan ek studeer.

Eendag, eendag, eendag…

Interessant dat die Bybel nie met eendag werk nie maar met vandag, weliswaar binne die konteks van bekering en toetree tot God, maar dit is steeds vandag!

Van uitstel kom afstel en kom teleurstel.

Iemand is eendag die vraag gevra wat die rykste plek op aarde is? Nog die Reserwebank, Effektebeurs, groot besighede of banke het in aanmerking gekom. Die rykste plek op aarde, het hy gesê is die begraafplaas.

In die begraafplaas lê daar soveel drome wat nooit verwesenlik is nie, daar is soveel boeke wat nooit geskryf is nie, soveel sakeondernemings wat nooit geopen is nie.

Soveel vergesigte wat nooit realiseer het nie, soveel reise wat nooit onderneem is nie, soveel dienswerk wat nooit aangepak is nie.

Soveel goeie voornemens wat tot niks gekom het nie, soveel gedigte wat nooit geskryf is nie, so kan ʼn mens aangaan.

Die vraag is inderdaad wat gaan saam met jou begraafplaas toe?

Watter verskoning bied jy aan dat jy nie aan die gang kom met die saak wat in jou hart leef nie?

Ek gesels met twee skrywers, beide “afgetree”.

Vir die een is sy boek oor afhanklikheid ʼn eerste poging en dit op 70-jarige leeftyd. Die ander het op volwasse leeftyd reeds ses boeke agter die rug.

“Hoe doen ʼn mens dit?” vra ek. Hoe kom ʼn mens aan die skryf?

Die een skrywer antwoord, jy gaan sit en jy begin met die woorde “eendag was daar…”.

Die res van die verhaal kom vanself. Jy gee jou verbeelding vleuels.

Die ander skrywer het ʼn leeftyd se ervaring as medikus en berader. Op 70-jarige leeftyd ervaar hy ʼn groot onrustigheid totdat hy begin skryf en sy leeftyd se ervaring met ander mense deel.

Jy is dalk nie geroep om te skryf nie, maar wat is dit waaroor jy nog altyd gedroom het?

Selfs al kan jy dit nie self doen nie, kan jy die weg voorberei vir iemand anders om daardie droom ʼn werklikheid te maak. Dawid wou baie graag ʼn tempel vir die Here bou. Die droom is uiteindelik deur sy seun Salomo verwesenlik. Dawid kon egter gedurende sy leeftyd ʼn wavrag reëlings in plek kry ten einde hierdie droom ʼn werklikheid te maak. Die droom is dalk nie joune nie, jy moet die voorbereidings tref. Dis reeds genoeg.

Dat ons in uitdagende tye leef, is gewis so. Die grootste uitdaging is egter die verskonings wat binne jou leef.

Eendag gaan ek. Miskien moet jy die verhaal verander na “vandag gaan ek”.

Die skrywer sê sy skryf ʼn duisend woorde per dag. Dit neem maar ongeveer ʼn uur, dan gaan sy aan met wat ook al op hande is. Soos reeds gesê, sy het reeds ses boeke op haar kerfstok.

Dis nie te laat nie. Wat los jy vir hulle wat na jou kom?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.