ToekomsVenster: Vat hande in die gemeente


hande-in-gebed-02

Argieffoto.

Ons oriënteer ons met die oog op die jaar wat soos ʼn skoon bladsy voor ons lê. Vandag wil ek die belang van die samekoms van die gemeente as een van die belangrike aspekte van 2017 se op-weg-wees voorstel.

Sommige mense beleef hul geloof in alternatiewe vorme van geloofsverkeer, kleingroepe, en so meer. Hoofsaak is dat daar tyd gegee sal word (Sondae veral) waar saam met medegelowiges en in die teenwoordigheid van God geluister en meegedoen sal word aan die verkondiging van sy Woord.

Die horisontale en vertikale asse van die kruis veronderstel geloofsverkeer met die God van hemel en aarde en ook met mekaar as medegeloofsgenote, pelgrimsreisigers op pad na die ewigheid saam met God.

Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ʼn bydrae om te lewer: ʼn psalm, ʼn onderwysing, ʼn openbaring, ʼn ongewone taal of klank, ʼn uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop. – 1 Korintiërs 14:26

Dis duidelik dat Paulus ʼn gereelde saamwees van gelowiges veronderstel.
Elkeen kom met ʼn bydrae om te lewer. Daar het voorbereiding vir die erediens plaasgevind het. Daar is verwagting en geloof.

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. – Hebreërs 10:25

Dis ʼn geloofsdissipline, geloofsritmes van die geloofslewe, een van die karaktertrekke van ʼn kind van die Here, naamlik dat hy saam met medegelowiges God se teenwoordigheid opsoek, waardeer en vier, so ook doelbewuste geloofsgemeenskap op horisontale en vertikale as. Pak dit in jou 2017-tas en wees getrou aan jou voorneme.

Ons gaan die Here se Woord, die Bybel met ons saamdra en gereeld bid. Ons gaan tyd met Hom deurbring en liefdeswerk verrig. Ons gaan die erediens besoek en saam met ander toegerus word vir ʼn uitdagende wêreld en lewe.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sakkie van der Merwe ·

Wonderlik om dit te hoor. Kom ons doen dit elkeen in ons gemeentes – reik uit na mekaar – vergeet die klein verskille/geskille en werk saam in dieselfde wingerd tot Sy eer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.